SANZAR, die groep wat die internasionale en provinsiale toernooie tussen Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland organiseer, het vandag gesê dat hy 'n voorwaardelike uitnodiging aan Argentinië gerig het om ná die volgende wêreldbeker by die Drienasieslande aan te sluit.
Die amptenare het gesê dat Argentinië gevra sal word om te waarborg dat hul beste spelers aan die Viernasies sal deelneem en dat Argentynse spelers insgelyks geleentheid gebied gaan word om vir Super-14-spanne van Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland te speel.
Die formaat van die Viernasies sal voorsiening maak vir elke span om tuis- en 'n wegwedstryde te speel – ses wedstryde per span en 12 wedstryde in totaal.
Andy Marinos, die waarnemende direkteur van SA Rugby en uitvoerende beampte van SANZAR, meen Argentinië sal kontras teenoor die speelstyl van die huidige drie spanne verskaf.
"Om die Poemas, wat derde in die Rugbywêreldbeker van 2007 geëindig het en tans sesde ter wêreld geklassifiseer word, saam met die drie top- internasionale spanne in wêreldrugby te sien speel, sal vir rugbygeesdriftiges opwindend wees, asook vir borge en uitsaaiers dwarsdeur ons vier lande en elders ter wêreld," het Marinos verklaar.
"Hulle speel met 'n ander styl as die All Blacks, Springbokke en Wallabies en hul insluiting sal die Drienasies in 'n waarlike suidelikehalfrondkampioenskap laat ontwikkel."
Die Viernasies sal vanaf middel-Augustus (ná afloop van die Superrugbykragmeting) vir 'n agt- of negeweekperiode tot vroeg Oktober gespeel word. In 'n Rugbywêreldbekerjaar sal 'n verkorte weergawe tydens Julie en Augustus gespeel word.
Porfirio Carrera, die president van die Union Argentina de Rugby (UAR) het die uitnodiging 'n "heuglike tyd vir rugby" in sy land genoem.
Augustin Picho, die kaptein van die Poemas tydens die 2007-wêreldbeker en tans lid van Argentynse rugby se hoëprestasieraad, het gesê dat die besluit tot verhoogde belangstelling in die sport in sy land sal lei.
"Ons is verheug om die kans te kry 'n groot rugbyland te word en om aan topvlak- internasionale rugby deel te neem," het Pichot gesê.
"Hierdie opwindende verwikkeling gaan lewensbelangrik wees om die spel in Argentinië te laat uitbrei. Dis geskiedkundig en elkeen in Argentinië behoort trots te voel."
Die Australiese rugbyunie het in 'n verklaring gesê dat hy Argentinië aangemoedig het om met die "nodige harde werk" voort te gaan om aan SANZAR se finansiële voorwaardes te voldoen wat die Poemas sal toelaat om aan die Drienasies deel te neem.
"Argentinië het tot dusver hul verbintenis, hartstog en 'n werketiek getoon wat hul begeerte beklemtoon om toe te sien dat die Poemas konsekwent op die hoogste moontlike vlak kan deelneem," het die uitvoerende beampte van die ARU, John O'Neill, gesê.
"Dis daarom belangrik dat Argentinië, met die voorwaardelike uitnodiging wat op die tafel is, stelselmatig vooruitgang sal maak en aan die nodige voorwaardes sal voldoen."
Argentinië het in 1910 sy eerste internasionale rugbywedstryd teen 'n toerspan van die Britse eilande gespeel. Sedert 1987 het die land aan al ses wêreldbekertoernooie deelgeneem, met as beste poging die halfeindrondte in Frankryk twee jaar gelede.
Die beste Argentynse spelers beskik oor kontrakte met Europese klubs, maar die Poemans het beperkte blootstelling aan internasionale mededinging van die toernooitipe. Die topses- Europese lande speel 'n jaarlikse Sesnasiestoernooi, wat reeds gevestig was lank voordat SANZAR onafhanklike toere deur die suidelike spanne tydens die negentigerjare in 'n jaarlikse Drienasiestoernaai omgeskakel het.
