Elf Suider-Afrikaanse lande is tans saamgetrek by Lohatla, die leër se gevegsopleidingsentrum, in die Noord-Kaap vir 'n gesamentlike sogenaamde vredesoefening.
Die weermag is op 'n gereedheidsgrondslag geplaas omdat die groot buitelandse militêre teenwoordigheid 'n veiligheidsrisiko inhou.
Die optog in Pretoria van die weermagvakbondlede verlede week word daarom in 'n besonder ernstige lig beskou, aangesien die soldate weens die gereedheidsgrondslag ingeperk was tot hulle eenhede.
Die militêre oefening is die finale voorbereiding vir die SAOG se bystandmag. Dié streeksmag is een van vyf op die kontinent en maak deel uit van die AU se militêre vermoë om krisisse te besleg.
Soldate van Suid-Afrika, Botswana, Angola, die DRK. Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Swaziland, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe neem aan die oefening deel.
Polisielede van die onderskeie lande is ook deel van die gevegsoefening.
Die Volksblad berig dat die weermag die publiek gewaarsku het om nie "op hol te gaan" oor die teenwoordigheid van buitelandse soldate en militêre voertuie nie. Die vreemde militêre teenwoordigheid sal van verskeie grensposte beweeg na Upington en vandaar na Lohatla vervoer word.
Die Suid-Afrikaanse weermag is die die gasheer vir Operasie Golfinho. Dit beteken "dolfyn" in Portugees. Dit het aan die begin van September afgeskop en hou tot 26 September aan.
