Die Londense The Times berig dat 'n Britse geoloog in Kenia deur ’n bende mans met messe, spiese, pyle en boë vermoor is.
Die polisie vermoed ’n geskil oor mynregte was die oorsaak van sy wrede dood.
Sowat 30 mans het Campbell Bridges, 71, sy seun, Bruce, en vier Keniaanse werkers Dinsdag naby die dorpie Voi in ’n hinderlaag gelei. Bruce Bridges het ’n panga-hou teen die nek gekry.
Volgens hom delf onwettige myners die afgelope tyd op die familie se konsessie van 600 ha en het hulle gesin reeds talle doodsdreigemente ontvang.
Die aanvallers het die pad wat die Bridges sou neem met groot doringtakke versper en agt mans gewapen met kapmesse, spiese, knuppels, messe, pyle en boë het op hulle toegesak toe hulle voertuig tot stilstand gekom het.
Campbell Bridges is met ’n mes doodgesteek. Die res van die party het daarna op vlug geslaan.
Swartes meen glo die Campbells is buitelanders en dat die edelstene op die grond nie aan hulle behoort nie.
“Ons vermoed die moordenaars is dalk werkers van ander mense wat hier wil myn,” het John Leshindoro, adjunkpolisiehoof, volgens Sapa-AP gesê.
