Solidariteit het Dinsdag in ’n verklaring gesê geen ooreenkoms kon Maandag tussen die partye bereik word nie. Hy het saam met ander vakbonde die aanbod verwerp.
“In die ronde van samesprekinge het AngloGold Ashanti, Gold Fields en Rand Uranium verhogings van 8,5% vir mynwerkers, amptenare en vakmanne in kategorieë 5 tot 8 aangebied terwyl Harmony 6,5% aangebied het asook ’n verdere verhoging gekoppel aan die goudprys,” het Solidariteit gesê.
Volgens Jaco Kleynhans, Solidariteit se woordvoerder, sal die vakbonde Vrydag gesprekke met Harmony voortsit.
Solidariteit het gesê die finale onderhandelinge sal op 21 Julie plaasvind – “’n sessie wat baie bepalend gaan wees”.
“Onderhandelinge in die goudsektor is nou krities. Volgende week sal dit ’n maak of breek-sessie wees.
“Die vakbonde se geduld raak op en die werkgewers moet eenvoudig met ’n werkbare aanbod na vore kom in die volgende sessie,” het Kleynhans gesê.
In ’n aparte verklaring het die Kamer van Mynwese gesê maatskappye wat in die goudsektor onderhandel onder toesig van die Kommissie vir Versoeking, Bemiddeling en Arbitrasie, het ’n finale aanbod gemaak.
Die Kamer van Mynwese het gesê hy meen die aanbod is ’n goeie balans tussen volhoubaarheid aan die maatskappye se kant en die eise van die vakbond.
