AfriForum het vandag in sy getuienis voor die tribunaal van die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) gevra dat dié kommissie SABC TV moet verbied om tydens nuusbulletins die munisipale naam “Tshwane” te gebruik om na Pretoria te verwys.
Die UKKSA-tribunaal het vandag se verhoor oor SABC TV se gebruik van “Tshwane” gereël om aan beide die SABC en AfriForum se regspanne die geleentheid te bied om hulle onderskeie standpunte te stel. Dit volg nadat AfriForum vroeër vanjaar ʼn klag teen die gebruik van die naam Tshwane by die UKKSA ingedien het. Die UKKSA se beslissing hieroor word binne drie weke verwag.
AfriForum is tydens die verhoor deur prof. Marinus Wiechers en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verteenwoordig, terwyl Fakir Hassen, die SABC se bestuurder van Uitsaai Nakoming (Broadcast Compliance), die openbare uitsaaier se saak gestel het.
Kriel het na die verhoor gesê hy glo dat AfriForum ʼn sterk saak gestel het en dat hy versigtig optimisties is oor die uitspraak wat gaan volg.
Wiechers het tydens vandag se verhoor namens AfriForum aangevoer dat die gebruik van die naam Tshwane op onbillike verslaggewing en ongelyke behandeling neerkom, omdat Tshwane die enigste munisipale naam is wat deurlopend tydens nuusbulletins gebruik word, terwyl alle ander dorpe en stede in die land se plekname, en nie munisipale name nie, gebruik word.
Dit is volgens AfriForum onprakties om deurgaans munisipale name te gebruik, aangesien die meeste munisipaliteite meer as een dorp of stad beslaan. AfriForum voer aan dat alle stede en dorpe – insluitend Pretoria – se plekname om dié rede ter wille van billikheid eerder gebruik moet word.
Die UKKSA se kode bepaal in Artikel 34.1 dat uitsaaiers verplig is om nuus “billik” weer te gee. AfriForum voer aan dat die woord “billik” gelyke behandeling beteken en dat die feit dat Pretoria anders behandel word, gevolglik direk strydig met Artikel 34.1 van die UKKSA se kode is.
Kriel het daarop gewys dat die Tshwane Metroraad se ideologies-gedrewe pogings om die publiek te mislei dat die hoofstad se naam nie meer Pretoria is nie, aangehelp is deur SABC TV-nuus se foutiewe verwysing na Pretoria as Tshwane.
Volgens Kriel het AfriForum transkripsies van TV-nuusbulletins aan die UKKSA oorhandig, met talle voorbeelde van waar Pretoria as pleknaam anders as ander dorps- en stadsname behandel word.
