Die swak bywoning by wedstryde het die internasionale sokkerliggaam kennelik laat besluit dat hulle nie nog wit toeskouers kan verloor nie. Daarbenewens is die meeste van die stadions deur Afrikaanse raadgewende ingenieurs opgerig, en het dit dalk intussen tot die beheerliggaam deurgedring.
Fifa het gister gesê dat hy ’n nuwe, volledige weergawe by Safa gekry het wat in die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg gespeel sal word.
Nicolas Maingot, Fifa se mediahoof, het gister gesê: "Die nasionale volksliedere vorm ’n belangrike deel van ons protokol voor wedstryde. Ons respekteer dit ten volle. Ons verkort nie volksliedere nie." Maingot het nie laat blyk dat dit Fifa was, volgens wat berig word, wat aan Safa gevra het om die volkslied te verkort nie.
“Nkosi sikeleli” is Sondagaand tydens die openingswedstryd van die konfederasietoernooi op Fifa se aandrang verkort omdat “volksliedere sowat 90 sekondes lank moet wees om balans te verseker”.
Die Afrikaanse dele van die volkslied is daarna weggelaat om die lied te verkort. Rich Mkhondo, kommunikasiehoof van die plaaslike reëlingskomitee, het gesê Fifa het die Suid-Afrikaanse span vir ’n opname van 90 sekondes gevra.
Amptenare het Sondag voor die openingswedstryd gestaak, maar het na hulle poste teruggekeer nadat Mkhondo aan hulle nuwe kontrakte belowe het.
