ANC-jeugliga staan by aanmerkings oor Zille

Die ANC-jeugliga het Donderdag gesê dat hy staan by sy opmerkings oor die DA-leier, Helen Zille, ondanks "intimidasie en dreigemente".

Image

Helen Zille

Woensdag het die eertydse gewapende vleuel van die ANC, Umkhonto we Sizwe gedreig om die Wes-Kaap "onregeerbaar" te maak indien Zille sou voortgaan om die pas verkose president Jacob Zuma te "beledig".

'n Woordvoerder vir die ANC-jeugliga, Floyd Shivambu, meen "die dreigemente en intimidasie van die rassistiese Helen Zille en DA-ondersteuners gaan ons nie keer om te sê wat ons wil sê nie."

Die jeugliga het vroeër beweer dat Zille seksueel met lede van haar provinsiale uitvoerende raad verkeer, nadat sy president Zuma as 'n rokjagter beskryf het wat sy vroue aan die gevaar van MIV-besmetting blootstel.

Dit het op sy beurt daartoe gelei dat woedende Zille-ondersteuners rasseaanmerkings en beledigende sms'e aan Shivambu, wie se selfoonnommers in Die Burger gepubliseer is, gestuur het.

Een van die sms'e het na bewering gelui: "Ons geen nie om wat die ANC-jeugliga te sê het nie… Die witman sal altyd baas in die land bly."

Volgens Shivambu is Zille 'n "rassistiese meisie" wat nóg vroue, nóg Afrikane en hul kulture en tradisies eerbiedig.

"Haar kabinet, wat 100 persent manlik en oorwegend blank is, kan hoegenaamd nie geregverdig word nie."

Hy sê dat die liga binnekort die ANC gaan ontmoet om sy posisie rondom alle verklarings en uitsprake oor Zille te verdedig.

"Ons glo verder dat haar gedrag en gevoelens simptomaties is van iemand wat as kind op haar kop laat val is," het Shivambu bygevoeg.

Volgens die MK-veteranevereniging se adjunksekretaris, Ramatuku Maphutha sal die vereniging soldate in die Wes-Kaap mobiliseer om aanstaande week na Zille se kantoor op te ruk indien sy nie haar opmerkings terugtrek nie.

"Hulle is altyd gereed (die soldate). Óf Zille ontruim haar kantoor, óf sy werk saam. Ons is bereid om daar te slaap indien nodig om die gewenste reaksie te verkry," het Maputha gesê.

Die veteranevereniging van die voormalige terroristeleër het alle openbare verteenwoordigers in die provinsiale rade en die parlement gelukgewens, veral die minister van verdediging Lindiwe Sisulu en haar adjunk Thabang Makwetla.

nights gameФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae