Die VSA sal 'n hoëvlakafvaardiging gelei deur handelsverteenwoordiger Ron Kirk na die inhuldiging van Jacob Zuma as president van Suid-Afrika stuur, het die Withuis Maandag in 'n verklaring gesê.
Kirk sal op 9 Mei na Pretoria vergesel word deur senior lede van Barack Obama se administrasie. Die name van die lede in die groep is nie in die verklaring bekend gemaak nie.
Zuma sal op Woensdag amptelik in die parlement aangewys word as president nadat sy party, die ANC, met 'n 66% meerderheid in die vierde demokratiese verkiesing gewen het.
"Die VSA wens die mense van Suid-Afrika geluk met nog 'n suksesvolle verkiesing – die vierde ná apartheid – en sien uit daarna om nou saam te werk met die nuwe administrasie in Suid-Afrika," het die Withuis bygevoeg.
