Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ‘n ekonomiese en morele verpligting vir Suid-Afrika indien dit korrek ontwerp is, het die DA Maandag gesê.
“SEB soos dit tans staan het opsigtelike versteurings in die ekonomie veroorsaak, wat groei en werksgeleenthede gekortwiek het, sonder om die armes te help,” het LP Kobus Marais, DA woordvoeder vir finansies gesê.
Indien korrek ontwerp en geïmplementeer, sal dit nie net wanbalanse van die verlede regstel nie, maar dit sal meer mense in die ekonomie sit, kompetisie stimuleer, ons vaardighede en produktiwiteit verbeter, binnelandse beleggingsvlakke verhoog, armoede verminder, werkloosheid verminder en die belastingbasis verbreed.”
Marais het egter die huidige praktyk gekritiseer waardeur enkele individue in SEB-transaksies verryk word terwyl die breë massa swartes min voordele ontvang.
