Volgens berigte is joernaliste en lede van die publiek wat die Burgemeester se dogter se hofverskyning wou bywoon, deur Ramokgopa se lyfwagte verhoed om die hofsaal binne te gaan. Ramokgopa se dogter het in die hof verskyn oor aanklagte wat verband hou met die besit van dwelms.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, was die hofverrigtinge oop vir lede van die publiek, insluitende joernaliste. Boonop het die Burgemeester se lyfwagte geen jurisdiksie in die betrokke hof nie.
“Dit was die joernaliste se grondwetlike reg om die verrigtinge by te woon. Die Burgemeester se bloulig-bende is duidelik van mening dat hulle bo die wet, insluitende die grondwet, verhewe is. Hulle was total buite orde en behoort dissiplinêr ondersoek te word”, het Beyers gesê.
Die VF Plus het sy standpunt herhaal dat dit buitensporig is om ongeveer 18 persoonlike lyfwagte vir die Burgemeester te reserveer terwyl die res van die stad se inwoners in vrees vir misdaad leef. “Daar moet ook gekyk word na die magte wat die lyfwagte het. Hulle taak is om die Burgemeester se veiligheid te verseker – die joernaliste was geen bedreiging vir haar veiligheid nie. Hulle was slegs met penne gewapen en nie swaarde nie.”
