Die 35 lande van die IAEA se bestuursraad is gereed om voort te gaan met die proses om ‘n opvolger te verkies in die plek van die agentskap se direkteurgeneraal Mohamed El-Baradei, wat in November moet uittree na sy derde termyn.
Verlede week het El-Baradei sy mees onlangse verslag bekend gemaak oor Iran wat toon dat die land opgehou het om vrae te beantwoord aangaande beweringe omtrent sy kernprogram.
Omdat Amerika steeds besig is om te besin oor hulle buitelandse beleid, sal hulle nie inmeng in resolusies oor Iran en Sirië by die IAEA-vergadering nie, het diplomate egter gesê.
Later die week sal IAEA-raadslede na verwagting stem om te bepaal wie die opvolger gaan wees van El-Baradei – die Japanese diplomaat Yukiya Amano of die Suid-Afrikaanse diplomaat Abdoel Samad Minty.
Minty is op 31 Oktober 1939 gebore, het in Johannesburg grootgeword en is in Brittanje opgelei. Hy het 'n lang geskiedenis van aktivisme. Hy was tussen 1962 en 1995 ereseketrtaris van die Britse Anti-Apartheidsbeweging. Minty was 'n groot teenstander van militêre en kernsamewerking met die ou orde en is ondersteun deur die Sweedse eerste minister Olof Palme, David Steel van Brittanje en Coretta Scott King, vrou van Martin Luther King.
Sy studie oor Suid-Afrika se toentertydse verdedigingstrategie in 1969 is deur die Anti-Apartheidsbeweging gebruik om militêre samewerking tussen Brittanje en Suid-Afrika op te skort tydens die Simonstadooreenkoms.
Sy volgehoue aktivisme het daartoe gelei dat Suid-Afrika in 1963 uit die Olimpiese Spele gehou is.
Deur sy toedoen is Suid-Afrika weer in die Gemenebes verwelkom en is die land tans deel van die groep Onverbonde Lande.
