Die drama het hom afgespeel toe 29 mense van die kerk in Ipopeng gister in die rivier by Glen op die Brandfort-pad gedoop moes word.
Polisieduikers van Bloemfontein het Molaoa net ná 11:00 uit die water gered en is steeds op soek na die lyke van twee mans, mnre. David Monwame-tsi (49) en Joseph Malae (21).
Mev. Katherine Monwametsi, wie se man steeds vermis word, het gesê die lidmate hulleself het teen 07:00 na die rivier gewend. “Dit is deel van ons kerk se geloof om ons elke nou en dan te laat doop.”
Die gemeente bestaan sedert Mei verlede jaar en gister was die tiende doopplegtigheid.
Sy het gesê Molaoa het haar man en Malae in die water in laat loop. Hulle sou eerste gedoop word.
“Ons weet steeds nie hoe dit gebeur het nie. Die stroom moes seker baie sterk gewees het en die drie mans het net verdwyn.”
Die leraar het sowat 200 m verder aan takke in die middel van die rivier vasgegryp.
Hy was langer as drie uur gestrand. Insp. Norman Kühn, onder wie se leiding die duikers die reddingsaksie uitgevoer het, het gesê die stroom was baie sterk. “Ons het op die beste en veiligste reddingsmetode moontlik besluit en die predikant met ’n reddingsboot en toue uit die rivier gekry.”
Dit het nagenoeg ’n uur geneem om Molaoa in veiligheid te bring. “Ek is so bly ek lewe. Daar is nie woorde om my blydskap te beskryf nie,” het hy gesê.
Die soektog na die ander twee is vertraag deur die ruwe terrein langs die rivier en swak weersomstandighede wat verhinder het dat ’n polisiehelikopter ingespan kon word.
Kühn het gesê die soektog na die ander twee sal vandag hervat word.
