Opmerkings van die ANK-jeugligaleier Julius Malema dat die minister van onderwys Naledi Pandor "haar vals aksent moet gebruik om ons probleme aan te spreek" is onaanvaarbaar en disrespekvol, het die ANK Woensdag gesê.
"Malema se opmerkings is ongevraagd en onaanvaarbaar. Dit toon 'n gebrek aan respek vir die waardigheid van die betrokke indiwidu en die belangrike werk waarmee die persoon vertrou word om uit te voer," het partywoordvoerder Jessi Duarte gesê.
Malema het met betogers gepraat by die Tswane-universiteit van tegnologie (TUT) toe hy Pandor beskuldig het dat sy niks doen om die voortslepende salarisdispuut by die universiteit op te los nie.
Sy opmerkings het gekom nadat die bestuur Dinsdag besluit het dat die instansie gesluit sal word weens aanhoudende protesoptrede deur beide studente en personeel oor salarisonderhandelinge.
"Die ANK-jeugliga is geregtig op hulle eie menings en standpunte. Maar dit behoort te geskied binne die norme en kultuur van die ANK," het Duarte gesê.
Sy het gesê die ANK-leierskap sal die saak met die jeugliga opneem.
"Daar kan geen verskoning wees vir die soort opmerkings wat aan Malema toegedig word nie," het Duarte gesê.
