Suid-Afrika se president, Kgalema Motlanthe, het Sondag gesê dat Zimbabwe, wat gekortwiek word deur rekordinflasie dalk die Suid-Afrikaanse rand as standaardgeldeenheid kan aanvaar.
"Ons moet hulle help sodat die koalisieregering kan werk," het Motlanthe gesê in 'n onderhoud met die SAUK, met verwysing na die magsdelingsooreenkoms tussen president Robert Mugabe en die aangewese eerste minister Morgan Tsvangirai.
Dit "mag vir hulle prakties wees om 'n ooreenkoms met die Reserwebank aan te gaan hier in Suid-Afrika om die rand as gemeenskaplike geldeenheid te gebruik", het hy gesê sonder om verdere motivering te gee vir sy argument.
Motlanthe dien ook tans as president van die SAOG wat as bemiddelaars in die krisis optree.
Pryse in Zimbabwe het met 231 miljoen persent gestyg in Julie verlede jaar, die laaste keer toe amptelike inflasiesyfers bekendgemaak is. Analiste sê egter dat inflasie in Zimbabwe in werklikheid op 'n paar miljard persent staan.
Die nasionale geldeenheid, die Zimbabwiese dollar, is herhaaldelik gedevalueer en beperkings op die gebruik van buitelandse geld, insluitend die Amerikaanse dollar, die euro en die rand is opgehef.
Zimbabwe sukkel ook om 'n toenemende humanitêre stryd die hoof te bied, te midde van 'n cholera-epidemie wat geblameer word op 'n ineengestorte infrastruktuur en 'n desperate voedseltekort, volgens internasionale agentskappe.
Matlanthe het ook die internasionale gemeenskap aangemoedig om die nuwe regering van nasionale eenheid, wat vandeesweek ingelyf moet word te help, ná die Afrika-unie 'n beroep gedoen het dat sanksies teen Robert Mugabe en sy vertrouelinge opgehef word.
