Afrikalande gaan 'n nuwe streeksliggaam op die been bring om die fyner besonderhede daarvan om die 53 lande van die vasteland onder 'n enkele pan-Afrika regering te bring, uit te werk, sê die hoof van die Afrika Unie.
Die idee om 'n eenheidsregering vir Afrika te vestig, word al jare lank onder die streek se leiers bespreek maar dit is onduidelik of só 'n owerheid enige gesag oor nasionale regerings sal hê.
Leiers by 'n AU-spitsberaad het gister ooreengekom om 'n Nuwe Afrika Uniegesag – wat die AU Kommissie sal vervang – te vestig om te besin oor die beste manier om die kontinent se regerings onder 'n enkele eenheidsregering te bring, sê die Tanzaniese president, Jakaya Kikwete, wat tans die AU aanvoer.
Die nuwe Gesag, wat teen die middel van die jaar geloods sal word, sal effens meer gesag as die huidige AU-bestuur hê om op te tree in sulke sake soos armoede, aansteeklike siektes, onderwys, regeringsgesag en regsaangeleenthede, het Kikwete gesê sonder om besonderhede te verskaf. Hy het nie aangedui hoe die Gesag befonds sal word nie.
Die Gesag sal die twyfel wat deur 'n hoeveelheid Afrikaleiers uitgespreek is oor die vereniging van Afrika onder een regering, moet aanspreek. Hierdie bedenkinge handel onder andere oor nasionale soewereiniteit, verdeling van hulpbronne en mag.
"In beginsel het ons gesê die toppunt sal Verenigde State van Afrika wees," het Kikwete aan verslaggewers gesê na die spitsberaad in Addis Ababa.
Die eendagspitsberaad was geslote vir verslaggewers.
