Die VF+ en die DA het 'n hofsaak aanhangig gemaak teen die verkiesingswet se bepalings wat Suid-Afrikaners in die buiteland verhoed om te stem.
Die VF+ het Maandag in die Pretoriase hof dokumente ingedien wat die grondwetlikheid van dié item in die kieswet uitdaag.
"Dit is net 'n eerste stap en ons sal na die grondwethof toe gaan as dit moet," het die VF Plus-leier, dr. Pieter Mulder gesê.
Hy het beweer dat daar politieke redes en nie konstitusionele redes nie agter die veranderinge van die wet is, wat in 1994 alle Suid-Afrikaners wat oorsee was, toegelaat het om te stem.
Soos dit nou staan, laat die kieswet net spesiale stemme toe vir Suid-Afrikaners wat tydelik weg is uit die land op vakansie, sakebesoeke, by tersiêre instellings, op opvoedkundige besoeke, deelnemend is aan internasionale sportbyeenkomste of by ambassades en konsulate gestasioneer is.
