Die vlieënier en hele bemanning van 'n SAL-vliegtuig is Dinsdag gearresteer nadat 50 kilogram dagga op 'n vlug van Johannesburg na Londen se Heathrow-lughawe gevind is, het doeanebeamptes gesê.
Die dwelms, wat sowat 150 000 pond werd is, is deur beamptes van die Britse grensagentskap (BGA) gevind, het 'n woordvoerder vir haar majesteit se inkomste en doeane diens (HMID) gesê.
Die dwelms is gevind in drie stukke bagasie. Die mense wat gearresteer is op die vliegtuig, wat om 8:00 op Londen se hooflughawe geland het, sluit in die vlugbemanning en kajuitbemanning het hy gesê.
"Toe die bemanning deur 'n doeaneklaringspunt beweeg het, het BGA-amptenare 'n hoeveelheid dagga in drie tasse gevind," het woordvoerder Bob Gaiger aan AFP gesê.
Die hele bemanning van die vliegtuig is gearresteer en word nou in aanhouding gehou en ondervra deur HMID," het hy bygevoeg, en bevestig dat die vlieënier ook een van die aangehoudenes is.
"Onderhoude sal gevoer word en sal waarskynlik oorloop na môre toe, waarna ons sal besluit of ons enige iemand sal aankla, of van die mense sal vrylaat, op borgtog indien nodig," het hy gesê.
Geen verdere besonderhede is beskikbaar nie, maar die woordvoerder het beklemtoon hoe ernstig die Britse doeanediens sulke dinge opneem.
"HMID, tesame met die BGA speel 'n belangrike rol in die stryd om onwettige dwelms te verhoed om die land in te kom, en om ons gemeenskappe te beskerm teen die geweld en korrupsie wat altyd dié afstootlike handel vergesel," het hy gesê.
