Voormalige president Thabo Mbeki het 'n plek op die ANC se Gauteng-lys van moontlike kandidate geweier, maar ook gerugte ontken dat hy nie meer aktief sal wees in politiek nie.
Woensdag het Mbeki in 'n verklaring gesê dat hy geëerd was met die nominasie, maar dat hy dit ongelukkig nie kan aanvaar nie.
Hy het bygevoeg: "In die onlangse verlede was daar spekulasie aangaande my onmiddellike aftrede of bedanking uit die aktiewe politiek."
"In dié verband kan ek net my hoop uitspreek dat die openbare debat nie langer aangevuur sal word deur gerugte en spekulasies waarvan niemand weet waar dit vandaan kom nie."
"Ek staan nie roekeloos teenoor die politiek en politieke uitdagings wat die land, die kontinent en die wêreld in die gesig staar nie. Ek sal ook nooit in die toekoms so voel nie. Ek bly die politieke wese wat ek die laaste 53 jaar van my lewe was," het Mbeki gesê.
Ná sy vertrek uit die Uniegebou verlede jaar het die voormalige president gesê dat hy sal aanhou om die gemeenskap in 'n ander hoedanigheid te dien.
Dit sluit in die rol van bemiddelaar om die politieke skaakmat in Zimbabwe te beëindig en die daarstelling van 'n Leierskapsinstituut saam met ander Afrikalande.
