Die DRK het Woensdag sekerheid uitgespreek dat die rebelleorganisasie, die Lord's Resistance Army (LRA), deur die noordooste van die land beweeg in die rigting van die Sentraal-Afrikaanse Republiek.
"Vandag is ons seker dat die rebelle in die rigting van die Sentraal-Afrikaanse Republiek beweeg, al het hulle nog nie die grens bereik nie," het die minister van kommunikasie en media, Lambert Mende Omalanga aan AFP gesê.
"Ons hoop dat die Sentraal-Afrikaanse Republiek, wat stappe geneem het om hulle te keer, hulle kan vang," het Mende bygevoeg.
Kongolese, Oegandese en Suid-Soedanese militêre magte het in die middel van Desember 'n gesamentlike operasie begin teen die rebelle in die noord-ooste van die DRK, 'n geïsoleerde gebied naby die Oegandese en Soedanese grense.
Die LRA, wat geblameer word vir baie menseregteskendings oor die jare, is meer onlangs verantwoordelik gehou vir die slagting van honderde burgerlikes in die Kongo, ten minste 400 volgens die Katolieke hulporganisasie Caritas, oor Kerstyd.
Derduisende mense is in Oeganda dood en amper 2 miljoen ontwortel in die twee dekades van gevegte tussen die LRA en die Oegandese regeringsmagte.
Dinsdag het die rebelle volgehou dat die drie-nasieveldtog teen hulle sal misluk, terwyl hulle gevra het vir 'n voortsetting van die onderhandelings onder toesig van die VN.
Mende, wat as woordvoerder vir die regering in Kinshasa optree, het gesê die rebelle gaan steeds van dorpie na dorpie in die noordooste van die Kongo om na voedsel te soek.
"Die weermag het baie probleme om hulle te agtervolg, omdat daar geen paaie is nie, geen toegang nie," het hy gesê. "Ons kan hulle slegs uit die lug agtervolg."
Dinsdag het die VN se kantoor vir die koördinasie van humanitêre aangeleenthede in 'n verslag gesê dat ten minste 13 mense dood is in LRA-strooptogte op 2, 3 en 4 Januarie in die dorpies Nagero, Masombo en Napopo respektiewelik.
Toestande vir die amper 13 500 ontwortelde mense wat skuiling gesoek het in Doruma bly moeilik, het die beampte gesê en bygevoeg dat nog mense deur die nuutste geweld uit hulle huise verdryf is.
