SA ministers byeen oor Amerikaanse terreurwaarskuwing

Ministers binne die veiligheidsgroepering vergader vandag na ‘n terreurwaarskuwing wat deur die Amerikaanse ambassade in Pretoria uitgereik is, het RSG berig.

Maar die waarskuwings kom van ‘n besmette bron, ‘n sakeman van Oos-Afrika wat glo in Suid-Afrika woon en sulke gerugte versprei teen betaling het News24 berig.

‘n Bron uit die Suid-Afrikaanse intelligensiediens het gesê die sakeman is glo ‘n “gediskrediteerde” informant wat net geld najaag vir sy inligting.

Suid-Afrikaanse owerhede het die bedreiging onderspeel en gesê daar is geen rede tot paniek nie.

Die Amerikaanse regering het vroeër sy burgers in Suid-Afrika gewaarsku dat terreurgroepe Amerikaanse toeriste by luukse winkelsentrums in groot stede kan teiken.

Brittanje en Australië het ook reiswaarskuwings vir hulle burgers uitgereik.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse ambassade, Cynthia Harvey, sê wanneer hulle spesifieke en geloofwaardige inligting oor bedreigings ontvang, is dit hulle beleid om die inligting bekend te maak.

Sy het ook weer bevestig dat hulle met die Suid-Afrikaanse owerhede saamwerk.

Die Instituut vir Sekerheidstudies het vroeër gewaarsku dat terreurdreigemente in Suid-Afrika nie ligtelik opgeneem of geïgnoreer moet word nie.

‘n Senior navorser by die Instituut, Martin Ewi, sê terreurgroepe wil Amerikaanse en Europese belange wêreldwyd aanval, en dit sluit Suid-Afrika in.

Maar die Afrika-direkteur vir terreurnavorsing en analise (TRAC), Jasmine Opperman het gesê die waarskuwings is eerder gerig om buitelandse burgers “wat duidelik aandui dat hulle hul dreigemente van direkte aanvalle op Suid-Afrikaanse bodem invoer”.

2 thoughts on “SA ministers byeen oor Amerikaanse terreurwaarskuwing”

  1. Wat van al die terroriste wat in ons land dreig. Wat elke dag staak en dreig tot n vol skaalse revolusie.
    Die tereur groepe wat alles van skole tot treine afbrand en buite bande brand steek.
    Niemand en geen staats amptenaar rep n woord oor ons inheemse terroriste nie.
    Dit is seker maar die Afrika tradisie om paniek en geweld te saai en kan en mag nie as terroriste gebrandmerk word nie. Nee asb tog nie dis apartheid wat dit veroorsaak het. Hmm asseblief!!!

Maak 'n opvolg-bydrae