Helen Suzman se Afrikanerjuigkommando

Dis seker gebruiklik dat politici by hul afsterwe lof toegeswaai word. Die manier waarop 'n waaragtige Afrikanerjuigkommando egter hul klakkelose bewondering vir mev. Helen Suzman betuig het, behoef verdere kommentaar.

Sowel FW de Klerk as Beeld, die eertydse mondstuk van die NP in die Transvaal, skep die indruk in onderskeidelik 'n verklaring en 'n hoofartikel dat hulle dit al die jare eens was met mev. Suzman.

Die eerste, ooglopende vraag wat opkom, is: Indien mnr. De Klerk, asook Beeld, al die jare so oortuig was dat mev. Suzman se siening van Suid-Afrika as 'n groot versameling hoofsaaklik Engelssprekende individue die korrekte was, waarom het mnr. De Klerk nie al destyds uit die NP bedank en by die destydse Progge aangesluit nie? Dieselfde geld vir Beeld wat destyds gal gebraak het oor die Progge, maar wat nou ewe vroom voorgee asof die koerant al in die sewentiger- en tagtigerjare die liberale lig gesien het.

Trouens, dis te betwyfel of Beeld hoegenaamd 'n snars begryp van die klassieke liberale tradisie, want die koerant ly steeds aan die "eenwaarheid"-sindroom en verdra geen daadwerklike debat of kritiek teen die huidige, twyfelagtige bestel nie.

Helaas het die meeste Progge, soos Alan Paton se weduwee, intussen verkies om te emigreer, eerder as om die geweldsmisdaad, korrupsie, riool in die drinkwater en ander probleme van Suid-Afrikaanse "demokrasie" te verduur.

Die ander enorme stuk ironie van mev. Suzman se dood, is natuurlik dat sy 'n private Joodse begrafnis verkies het. As een van die liberale Engelstalige politici wat dit hul hardkoppige gewoonte gemaak het om etnisiteit as 'n politieke faktor in Suid-Afrika te ontken, lyk dit na 'n wanklinkende teenstrydigheid vir mev. Suzman om tydens 'n etniese begrafnis ter aarde bestel te word.

to winФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae