Japannese uitvoere het met 'n rekord-26,7% gedaal in November, het die ministerie van finansies gesê en ook die daling in die globale vraag na voertuie, elektroniese onderdele en ander Japannese produkte beklemtoon.
Ekonome waarsku dat uitvoere, wat 'n groot deel van die wêreld se tweede grootste ekonomie verteenwoordig, verder sal daal met geen uitkoms in sig vir die globale ekonomie nie. Selfs uitvoere na die res van Asië het skerp gedaal.
"Die aanvraag het baie afgekoel, nie net in Amerika en Europa nie, maar ook in Rusland en die Midde-Ooste, en ons verwag verdere dalings in uitvoere soos wat die globale ekonomie verder verswak," het Hideki Matsamura, 'n senior ekonoom by die Japannese navorsingsinstituut in Tokio gesê.
Getref deur dalende verkope en 'n versterking in die jen, het groot uitvoerders soos Toyota Motor Corp. en Sony Corp. reeds verliese aan poste aangekondig, asook laer winsprojeksies.
Uitvoerders het hulle grootste jaar-tot-jaardaling aangekondig sedert die statistiekstelsel in 1980 in werking getree het.
Uitvoere se totaal was $60 miljard gewees, terwyl invoere met 14,4% gedaal het van 'n jaar tevore tot $62 miljard, het die ministerie gesê.
Dit het 'n handelstekort van $2,5 miljard teweeggebring. Dis die vierde keer vanjaar dat Japan gesê het dat hulle invoere die uitvoere oortref.
Jare lank het Japan kritiek gekry van sy handelsvennote oor sy handelsoorskotte. Maar nou het die globale ekonomiese insinking Japan in 'n netto invoerder verander, ten minste in die onlangse maande.
