Die Belgiese regering het die Belgiese deel van Fortis aan die Franse bank BNP Paribas verkoop. Daarteen het ’n meerderheid van die aandeelhouers beswaar gemaak, en die Belgiese hof van beroep het op 12 Desember die oorname voorlopig geblokkeer. Dit het vir die regering groot politieke probleme geskep.
Einde verlede week het dit bekend geraak dat die regering blykbaar druk op die regters probeer uitoefen het om ’n uitspraak te lewer wat gunstig vir die regering sou wees. Die hoogste regter het verklaar dat daar weliswaar geen juridiese bewys is dat die regering die regbank belemmer het nie, maar dat daar ongetwyfeld belangrike aanwysings in dié rigting is. In enige demokrasie is politieke inmenging in die regterlike gesag ’n doodsonde.
Intussen het Paribas op 18 Desember die oorname van Fortis voorlopig opgeskort.
Leterme, leier van die Vlaamse christen-demokrate, was die groot wenner in die verkiesing van 10 Junie verlede jaar. Die vorming van ’n regering het egter nege maande geduur omdat hy nie die samewerking van die Franstalige politici oor ’n staatshervorming kon verkry nie. Hy kon trouens eers as premier aan die gang kom nadat sy voorganger, Guy Verhofstadt, ’n paar maande lank ’n oorgangsregering gelei het.
Eers op 20 Maart vanjaar is eenstemmigheid oor die ministersposte bereik. Op 14 Julie het die onderhandelinge oor ’n staatshervorming misluk, en het Leterme sy ontslag aangebied. Die koning het dit geweier en ’n bemiddelaar aangewys om die staatshervorming voor te berei.
In September was die voortbestaan van die regering weer in gevaar toe een van die kleiner lede van die koalisie, die Nieuw-Vlaamse Alliantie, sy steun aan die federale regering opgesê het.
Die onderhandelinge oor ’n staatshervorming het die afgelope tyd op die agtergrond geraak vanweë die ekonomiese krisis.
Een van die besware teen ’n nuwe verkiesing is juis dat ’n verwante kwessie nog onopgelos is. Dit is die probleem van die kiesdistrik Brussel-Halle-Vilvoorde (BHV). Dit bestaan uit die tweetalige Brussel en 35 omliggende munisipaliteite wat by Vlaandere behoort. Vlaamse politici wil hê dat die kiesdistrik gesplits word sodat die Franstalige inwoners van hierdie Vlaamse munisipale gebiede nie meer in Brussel op die Franstalige kandidate moet kan stem nie. Die Franstaligtes is teen so ’n splitsing.
Die voorsitter van die Grondwethof het verlede jaar gesê dat daar geen parlementêre verkiesings gehou moet word voordat die BHV-kwessie opgelos is nie.
Die opposisiepartye wil ’n nuwe verkiesing hê, maar sommige waarnemers beskou dit as ’n waagstuk omdat dit dalk onmoontlik sou wees om daarna ’n nuwe regering te vorm. In Junie is daar verkiesings vir die streeksparlemente van Vlaandere, Wallonië en Brussel. Die partye wat verteenwoordig is in die federale parlement, gaan daaraan deelneem, en tot dan sal hulle ongeneë wees om toegewings te doen wat nodig is vir ’n koalisieregering.
Dit lyk of alle regeringspartye – Vlaamse en Franstalige christen-demokrate en liberale plus Waalse sosialiste – hulle neerlê by die gedagte aan ’n oorgangsregering tot in Junie. Dan sal die verkiesings vir die streeksparlemente en die federale parlement op dieselfde tyd gehou kan word. Die liberale is ongelukkig omdat hulle heeltemal oor die hoof gesien word in die huidige konsultasies.
