In tonele wat die regering van president Robert Mugabe geskok het, en spekulasie aangeblaas het dat dié regering se dae getel is, het dosyne soldate op 1 Desember amok gemaak in Harare, uit protes teen die ekonomiese verval in die land.
Sommige bystanders het toegekyk, terwyl ander meegedoen het toe junior soldate, wat gefrustreerd was omdat hulle vanweë 'n kontanttekort nie hul skamele salarisse kon trek nie, deur die strate gehardloop het en winkels geplunder het. Hulle het ook swartmarkgeldhandelaars aangeval.
Alhoewel die staat vinnig inbeweeg het om die toestand onder beheer te kry, en 16 soldate gearresteer is wat nou militêre vervolging in die gesig staar, waarsku die voetsoldate van Mugabe se regering dat hulle dalk weer kort voor lank die strate kan binnevaar.
"Net soos enigiemand anders het ons ook gesinne om kos te gee. Ons kry ook swaar, net soos ander burgers in die land," het een junior offisier, Ola, (skuilnaam) aan Deutsche Presse-Agentur vertel.
In 'n huis in die Mbare-woongebied suidwes van Harare, geklee in gehawende stewels en 'n gebleikte gevegsbroek, vertel Ola, 'n vader van twee, en Duke, (nie sy regte naam nie), van die frustrasie wat tot hulle uitbarsting aanleiding gegee het.
"Daar is geen junior offisiere meer in die weermag wat Mugabe ondersteun nie. Ons is moeg en ons kry swaar," beweer Duke. "Indien 'n buitelandse weermag ons kom aanval, sal ons met hulle saamwerk of na 'n buurland vlug."Die oproer het begin toe soldate geforseer is om in lang toue te staan saam met gewone Zimbabwiërs om hulle salaris by 'n kitsbank te kry en nie soos gewoonlik by die barakke betaal is nie."Geld het opgeraak by die barakke omdat die top offisiere al die geld geneem het. Toe het ons maar dorp toe geloop om in die tou te gaan staan vir kontant," het Ola gesê."Ons het kwaad geword toe ons nie geld kon kry nie. Die bank se kontant het opgeraak. Dit is toe die chaos begin het."
Die oproer was die eerste uitdaging aan Mugabe wat van binne die normaalweg lojale weermag afkomstig is. Lojaliteit staan egter steeds sterk in die boonste offisiers kringe, wat deur Mugabe met geskenke oorval word. Dié geskenke sluit luukse voertuie en gekonfiskeerde plase in. Junior offisiere wat ook die byt van die ekonomie voel, begin tekens van moegheid toon. Die laags besoldigde soldaat in Zimbabwe verdien sowat 10 dollar per maand.
