'n Sewentienjarige seun is in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van 'n 10-jarige dogtertjie in Mhluzi naby Middelburg, het Mpumalangapolisie Dinsdag gesê.
Superintendent Abie Khoabane het gesê die meisie het teen 14:00 Sondag met haar maat in die straat gespeel. Sy het na die buitetoilet toe gegaan by haar maat se huis toe die seun haar gegryp het.
"Haar mond is klaarblyklik toegemaak met 'n lap. Nadat die seun haar met 'n mes gedreig het, het hy haar verkrag," het Khoabane gesê.
"Alhoewel daar mense in die huis was, het niemand iets gesien nie, omdat die toilet aan die agterkant van die huis is."
Die tienerseun is gearresteer nadat 'n dokter bevestig het dat die meisie wel verkrag is.
Hy gaan Woensdag in die landdroshof op Middelburg verskyn, het Khoabane gesê.
