Wêreldoliepryse het Maandag in handel op die Asiese markte weer gestyg in afwagting dat OPUL die produksie van olie gaan verminder by 'n vergadering vandeesweek, het handelaars gesê.
Pryse het ook gestyg ná tekens dat die Withuis tot die redding van die beleërde Amerikaanse motorsektor kan kom, het hulle gesê.
New York se kontrak vir ligte ru-olie vir Januarie het $1,07 gestyg tot $47,35 per vaatjie nadat dit Vrydag $1,70 laer gesluit het op $46,28.
Brent Noordsee-ru-olie vir Januarie het 76 sent gestyg tot $47,17 per vaatjie. Die kontrakprys het Vrydag 98 sent laer gesluit op $46,41.
Ontleders sê dat OPUL waarskynlik planne sal aankondig wanneer die kartel Woensdag in Algerië ontmoet om produksie te verminder ten einde pryse te ondersteun.
Ru-oliepryse het amper 70% gedaal vanaf die rekordvlakke van meer as 147 dollar per vat wat dit in Julie behaal het. Sleutel-OPUL-lande het reeds openbare versoeke gerig dat die kartel produksievlakke verlaag.
