Nederlandse NRO gebruik sepies teen etniese geweld

Die Nederlandse NRO Radio La Benevolencija vervaardig radioprogramme en mediaveldtogte in sentraal Afrika met die mikpunt om plaaslike inwoners te help om te verstaan hoe politieke propaganda werk en hoe om etniese en rassegeweld te weerstaan.

La Benevolencija beplan ook aksie in Nederland, om dié land se inwoners te help om hulle etniese spanning daar te kan hanteer.

"Ons is in die besigheid van media-onderrig," het George Weiss, stigter en direkteur van die Amsterdamgebaseerde NRO gesê.

"Ons leer mense om opstokery raak te sien sodat hulle daarteen kan optree." Weiss, 'n filmmaker wat al vir dekades in humanitêre projekte betrokke is, is in Oostenryk gebore.

Oorspronklik was Radio La Benevolencija die filiaal van 'n Joodse welsynsorganisasie met dieselfde naam wat in Sarajevo, Bosnië gewerk het.

Gedurende die Balkanoorlog in die negentigerjare het die organisasie 'n neutrale posisie ingeneem en veilige skuiling, voedsel en medikasie aan alle etniese groepe verskaf terwyl die stad onder beleg was.

Op daardie stadium het Weiss 'n Nederlandse filiaal begin wat die Sarajevo-organisasie finansieel en polities gesteun het.

Toe die oorlog geëindig het, het hy die Nederlandse filiaal in 'n onafhanklike stigting omskep wat massamedia gebruik as instrument om mense in te lig oor etniese- en rassehaat en -geweld, en om mense te help om trauma te verwerk.

"Ons aktiwiteite het begin in Rwanda in 2003, ná die volksmoord," het Weiss gesê.

Weiss het gesê dat mense in die Kongo nie die politici vertrou nie, omdat hulle met internasionale diamanthandelaars saamwerk – die Israeli's, Libanese, Sjinese en ander – terwyl die geld wat gemaak word uit die handel dikwels verdwyn.

La Benevolencija se sepies poog om mense se geloof in die wet te versterk.

"Ons radioprogramme vertel aan mense dat die polisie hulle werk doen. Ons sê: indien iets met jou gebeur, het jy sekere regte, maar in plaas daarvan om die reg in eie hande te neem, gaan vra vir billike behandeling."

детские сайтыАлександр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae