Suid-Afrika gaan nie grensbeheer toepas nie

Suid-Afrika gaan nie grensbeheer verskerp nie, ten spyte van die groot hoeveelheid onwettige immigrante wat die land binnekom, het die minister van binnelandse sake, Nosiviwe Mapisa-Nqakula Dinsdag gesê.

"Ekonomiese migrante sal altyd 'n manier vind om in gebiede in te beweeg waar hulle nie behoort te wees nie," het sy aan verslaggewers gesê. "Mens sal dit nie kan voorkom nie."

Die ergste ding wat Suid-Afrika kan doen "is om terug te gaan na die verlede waar elektriese heinings mense se beweging beperk het".

Sy het gepraat by 'n mediakongres oor immigrasielogistiek vir die 2010 Fifa-wêreldbekersokker, en hoe Afrikalande geakkommodeer sal word vir die gebeurtenis.

Met verwysing na Beitbrug, Suid-Afrika se grenspos met Zimbabwe, het sy gesê dat dit oorspronklik bedoel is as 'n plek wat baie min beweging tussen Suid-Afrika en die res van Afrika sal toelaat.

"Maar ons praat van die vrye beweging van mense," het sy gesê.

Strenger grensbeheer sal "eintlik onwettige immigrante aanmoedig".

"Ons klem is op die fasilitering van beweging in plaas van strenger grensbeheer, dan weet mens wie in die land inkom en wat hulle doen."

Daar is geen amptelike syfers beskikbaar oor die hoeveelheid onwettige immigrante in Suid-Afrika nie, maar sommige skattings plaas dit so hoog as 10 miljoen mense, 'n situasie wat vererger word deur die sosio-ekonomiese en politieke krisis in Zimbabwe.    

accessories weddingФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae