Tshwane hou duur jaareindfunksie

Die Vryheidsfront Plus het in 'n verklaring gesê dat die Tshwane metroraad se burgemeester, dr. Gwen Ramokgopa, na 'Cope moet oorloop en klaarkry' sodat die stadsraad ontslae van haar kan wees en kan begin om te herstel van die skade wat dit onder haar rampspoedige bestuur gely het.

Dit kom nadat inligting na vore gekom het dat Ramokgopa en die munisipale bestuurder, Kiba Kekana, en hulle direkte werknemers nagenoeg R300 000 op 'n jaareindfunksie spandeer het waarin belastingbetalers onder andere vir 'oorvloedige drank' moes opdok.

Hierdie duur partytjie is gehou ten spyte van die feit dat die raad vir die jaar 2008-09 ’n kontantvloei-tekort van R127,6 miljoen gehad.  Boonop het senior bestuur besluit dat geen ander departement jaareindfunksies sal hou nie om geld te bespaar.

Volgens mnr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, maak Ramokgopa en die plaaslike ANC-leierskap weereens die fout deur belastingbetalers te behandel asof hulle in diens van die stadsraad staan.  Hulle besef steeds nie dat die raad eerder in diens van belastingbetalers moet optree nie.

"Deur belastingbetalers se geld op drank te mors is 'n klap in die gesig van duisende gesinne en individue wat in moeilike ekonomiese omstandighede getrou hulle belasting betaal. Dit is nou tyd dat die stadsraad ontslae raak van die huidige leierskap.  Dit sal almal baat as Ramokgopa, wat nog altyd 'n vurige Mbeki-ondersteuner was, haar goed vat en na Cope oorloop waar sy hoort", het Beyers gesê.

Die Vryheidsfront Plus het in Oktober vanjaar 'n klagte by die Openbare Beskermer gelê waarin gevra word dat ernstige beweringe van korrupsie, nepotisme en wanbestuur in die stadsraad ondersoek moet word.  Volgens die kantoor van die Openbare Beskermer word die saak wel ondersoek.

Die klagte sluit in dat belastingbetalers na bewering maandelikse bedrae van tot R300 000 aan 'lekgotlas' by eksklusiewe plekke in ander provinsies moes betaal.

"Die VF Plus hoop dat die Openbare Beskermer se ondersoek so spoedig moontlik afgehandel sal word.  Indien die Burgemeester en die ANC-leierskap skuldig is aan wanbestuur, sal die raad onder administrasie geplaas kan word.  Dit beteken basies dat as Ramokgopa nie self bedank nie dan kan sy op ander maniere verwyder word", het Beyers bygevoeg.

яркие рубашки для мальчиков купитьАлександр Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae