Die Verenigde State en Brittanje het die aanvalle op veral die toeristehotelle Taj Mahal en Oberoi in die Indiese finansiële hoofstad veroordeel.
Die VSA het die aanvalle, waarin honderde mense beseer is, as "grusaam" beskryf, terwyl die verkose president Barack Obama belowe het om saam met Indië te werk om "terreurnetwerke met wortel en tak uit te roei".
Die hoof van die VN, Ban Ki-moen, het gesê dat sulke geweld "geheel en al onaanvaarbaar" is, terwyl Brittanje die aanvalle op sy voormalige kolonie as "verregaande" beskryf het en die Europese Unie sy "skok en verontwaardiging" uitgespreek het.
Volgens amptenare het 78 mense gesterf in gekoördineerde aanvalle by twee van Moembaai se mees luukse hotelle en die Chhatrapati Shivaji-spoorwegstasie laat Woensdag, berig die nuusagentskap Perstrust van Indië.
