Wat help ‘n ‘vrye Zimbabwe’ sonder blankes?

Image09:05:20 Vandag begin die soveelste rondte "onderhandelings" tussen die Zimbabwiese opposisie en regering in Suid-Afrika. Vanuit die buiteland en veral die VSA het die druk op Mugabe om toegewings aan Morgan Tsvangirai se Beweging vir Demokratiese Verandering te maak, toegeneem.

Weens die afsetting van Mbeki, het Mugabe 'n belangrike bondgenoot verloor en is Suid-Afrika besig om die Amerikaanse en Britse oproepe vir Mugabe om afstand van die mag te doen, te ondersteun. Enersyds gaan dit vir die Zuma-faksie van die ANC daaroor om hom duidelik van Mbeki te onderskei en andersyds soek die Zuma-faksie ook toenadering tot die VSA en Brittanje wat hom nie goedgesind is nie en meer van Mbeki gehou het.

Amerika is besig om sowel oud-president Carter as uitgaande president George W. Bush in die media te gebruik in 'n laaste desperate poging om Mugabe tot 'n val te bring. Bush het so pas tydens 'n spitsberaad in Lima, Peru 'n beroep gedoen op 'n "einde aan die Mugabe-bewind se brutale onderdrukking van basiese vryhede en die vorming van 'n legitieme regering wat die wil van die mense verteenwoordig soos dit tydens die verkiesing van Maart 2008 uitgedruk is".

Die kwessie wat almal egter uit die oog verloor, is die volgende: die ekonomiese – en tans sogenaamde "humanitêre" – krisis in Zimbabwe is nie deur 'n gebrek aan demokrasie veroorsaak nie. Daar bestaan vele nie-demokratiese lande wat ekonomies uitermate suksesvol is of was. Sowel Singapoer as China het 'n ongekende ekonomiese opbloei beleef onder regerings wat allerweë in die Weste as ondemokraties of selfs totalitêr gekritiseer word.

Suid-Afrika onder Verwoerd in die vroeë sestigerjare is 'n ander voorbeeld van 'n land met volle indiensneming, vrede en 'n hoë ekonomiese groeikoers waar die begrip "een mens, een stem" juis nié toegepas is nie. Die mees liberale koerant destyds in Suid-Afrika, die Rand Daily Mail, het die toestand in die land as 'n "oorvloed van voorspoed" beskryf.

Kom ons wees vir eens eerlik oor Zimbabwe: die ineenstorting van die land se ekonomie is deur sogenaamde "grondhervorming" en die verdrywing van die blanke bevolking veroorsaak. Dit lei tot die logiese vraag: hoe sou Zimbabwe baat by demokrasie, behalwe dat 'n nuwe politieke bestel in die land 'n invloei van korttermynhulp vanuit die Weste gaan veroorsaak?

Die eertydse, welvarende Zimbabwe het saam met Suid-Afrika en Namibië die voorspoedige suide van die Afrikakontinent uitgemaak. Dit is ook die deel waar blanke vestiging sy hoogtepunt op ons vasteland bereik het.

Die treurige waarheid is dat die ou Zimbabwe – of moet ons eerder sê die oud-Rhodesië? – vir altyd verby is. Die land is permanent geknak en tensy daar 'n revolusie in Suider-Afrika plaasvind met Verwoerd en Ian Smith wat uit die dode opstaan, gaan die welvaart van weleer nooit weer terugkeer nie.

Hulpgeld het nêrens in Afrika voorspoed vir die swart massas gebring nie. Die een miljard pond wat Brittanje belowe indien Mugabe sou uittree, gaan weinig, indien enige, verligting bring. Die hulpgeld sal bloot in die sakke van die amptenary, asook die "deugdelike engele" – soos die Amerikaanse skrywer Paul Theroux met bytende sarkasme die horde Westerse hulpwerkers in Afrika beskryf – beland. Kortom, Oxfam en die meer as veertig ministers in die Zimbabwe-kabinet gaan by die "beloning vir demokrasie" baat, nie die gewone Zimbabwiërs nie.

Amerikaanse "demokrasie" met die koekversierings van verkiesings en meer as een faksie wat oënskynlik met mekaar verkeer sonder om die panga of AK-47 uit te haal, bring geen reële verbetering in Afrika nie. Net so min as wat Afrika gebaat het by die kommunistiese najaag van gelykheid en die vorming van volksrepublieke, baat die vasteland tans by demokrasie. Daarvoor is die ontwikkelingsprobleme van ons vasteland eenvoudig te groot. Demokrasie is ook 'n stelsel wat vreemd is vir Afrikane met hul sin vir lojaliteit aan 'n hoofman en die begunstiging wat hulle van hom verwag.

Of daar dus vandag of aanstaande week of selfs aanstaande jaar 'n sogenaamde "politieke oplossing" in Zimbabwe gevind word, is eintlik irrelevant.

Die werklike oorsaak van die land se probleme is die verdrywing van die blanke minderheid wat 'n sleutelrol in die ekonomie gespeel het. Nóg die wêreldmedia, nóg die VSA wat binnekort 'n swartman in die Ovaalkantoor gaan hê, is bereid om dié eenvoudige waarheid in die oë te kyk.

хамам в квартиреФильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae