praag.co.za

Dan Roodt: Die tragedie van Springbokrugby

Written by

in

,

Kom ons erken dit maar: In die Nuwe Suid-Afrika met sy afwaartse spiraal wat standaarde en prestasie betref, soek almal naarstiglik na ‘n tikkie voortreflikheid, die sweem van ‘n “wenner”. Vandaar dus die sware verantwoordelikheid wat op die Springbokrugbyspan gepak word: In ‘n verloorland met ‘n regering wat Zimbabwe as sy model aanvaar het, moet vyftien hoofsaaklik wit Afrikaanse rugbyspelers die kastaiïngs uit die vuur krap en ‘n wêreldbeker huis toe bring.

Soos ek egter gistermiddag na afloop van die Springbokke se neerlaag teen Nieu-Seeland getwiet het:

Albert Brenner, wat so twee jaar gelede hier oor Rugby en die Afrikaner geskryf het, het gister insgelyks getwiet:

As ‘n mens ‘n lykskouing oor gister se wedstryd moet hou, het Bryan Habana waarskynlik die wedstryd weggesmyt toe hy ongevraag begin storm het voordat Dan Carter vir sy doelskop begin beweeg het. Daarmee het ‘n oënskynlik senuagtige Carter ‘n tweede kans gekry en wel die bal tussen die pale deurgestuur.

Ek is nie so ‘n groot rugbykenner nie, hoewel enigeen in Suid-Afrika met rugby grootword. Toe ek klein was, nog voor die koms van televisie, kan ek onthou hoe gesinne voor die radio met gespanne aandag na Gerard Viviers se kommentaar geluister het, tot by daardie ekstatiese oomblik: “… En hy druk hom!” ‘n Mens moet egter blind wees om nie die dilemma van Springbokrugby raak te sien nie.

Die media maak ‘n geweldige ophef van gekleurde spelers, veral natuurlik Habana, maar ook die Zimbabwiër “Beast” Mtawarira wat reeds sedert 2008 vir die Springbokke speel. Trouens, “Beast” verskyn op feitlik elke handelsadvertensie waarin die Springbokke gebruik word. Ook J.P. Pietersen haal elke keer span, terwyl die aantal foute wat hy maak, net vermeerder. Die afgelope paar wedstryde hou ek hom nogal dop: telkens as hy die bal kry, lyk dit nie asof hy weet wat om daarmee te maak nie. Gister het hy ‘n bal wat deur die All Blacks uitgegooi is, probeer klap en daarmee die lynstaan ongunstig teen sy eie span gekeer.

Daarmee is ons midde-in die probleem van Springbokrugby: rassekwotas en politieke korrektheid. Mandela het nie spontaan die Springbokrugbytrui in 1995 aangetrek nie: sy sinistere raadgewers in die SAKP wat al dekades lank met ‘n sielkundige oorlog teen Afrikaners besig is, het hom waarskynlik voorgesê om met dié foefie vorendag te kom, “om die land te verenig”, terwyl hulle heimlik besig was om van die weermag en polisie se offisiere ontslae te raak en hulle met hul eie MK-terroriste te vervang.

Feit is dat sport, en veral rugby, in Suid-Afrika so verpolitiseer is dat ons waarskynlik nooit weer “normale” sport gaan sien nie. Eintlik kry ‘n mens die afrigters soos Heyneke Meyer jammer, want hulle moet die bykans onmoontlike vermag om teen ander spanne te wen wat bloot op meriete gekies word, terwyl hy die ANC-sportminister Fikile Mbalula se enkelmoutwhiskyasem op sy nek voel soos wat die druk om alle blanke spelers met swartes te vervang, toeneem.

“Transformasie” is ‘n sinoniem vir dít wat die Franse deesdae “die groot vervanging” (le grand remplacement; kyk bietjie dié musiekvideo deur die gemaskerde vrouegroep “Les brigandes”) noem. Dit gaan daaroor om die oorspronklike bevolking – in dié geval die Springbokke wat meesal uit Afrikaners bestaan het – met ‘n nuwe bevolking te vervang.

Onderweg na daardie “groot vervanging” waardeur ons uit die openbare oog moet verdwyn, ook wat rugby betref, bevind Springbokafrigters hulle tussen Scylla en Charybdis: vervang hulle nie genoeg nie, verloor hulle hul werk; vervang hulle te vinnig, verloor die span, soos gister.

Gister het die All Blacks, veral in die eerste deel van die wedstryd toe ons goed begin het, nie so sterk gelyk nie. Indien die Springbokke meer gees en samehorigheid gehad het, sou hulle met gemak kon wen. Maar die punt van my twiet hier bo is geldig: Geen patriotisme en samehorigheid is moontlik waar ‘n volkslied uit drie dele met drie tale bestaan en daar konstant rassekwotas afgedwing word nie!

Ons, die Afrikaanse rugbypubliek, bevind ons ook in ‘n volslae teenstrydigheid: Indien die Springbokke die wêreldbeker sou wen, sou dit eindeloos deur die ANC en die hele polities korrekte horde in die media uitgebuit word “om die dae van Mandela” te laat herleef en juis “die groot vervanging” met skerper haat en venyn te verkondig. Verloor hulle, soos gister, voel mense teleurgestel en moedeloos, en gee al minder om of die groot vervanging plaasvind, al dan nie.

Wen of verloor, op die ou einde verloor ons almal.

Het dit daarom nie tyd geword dat die sportadministrateurs en -afrigters bietjie ruggraat toon en groter outonomie vir sport en sportbesluite – soos die aanwys van spelers – voorstaan nie?

Anders gaan die huidige kwasikommunistiese omstandighede waarin alles – kultuur, letterkunde, onderwys, sport – aan politiek en ideologie ondergeskik is, bloot voortduur.

Comments

14 responses to “Dan Roodt: Die tragedie van Springbokrugby”

  1. Riempies Avatar
    Riempies

    Ek weet nou nie so baie van rugby soos die manne nie maar ek
    wil tog my mening gee oor wat ek dink die probleem is met die Proteaspan van
    die ANC. (Gewese Springbokspan uit die glorie dae van die Afrikaners).

    Met al die sokkerskenners nou in beheer van rugby kom hulle
    nie agter hulle het net voorspelers in die Proteaspan en geen agterlyn nie. Ek
    sal sê hulle moet die helfte van die voorspelers wegneem en vervang met n
    ordentlik vinnige en slim agterlyn. Oor dit Sondag is sal ek maar dit vir
    iemand anders oorlaat om van Habana ietsie te sê.

  2. Riempies Avatar
    Riempies

    Wie kan nog vir Gerard Viviers onsthou met sy Cidy….. Cidy ……. Cidy.

  3. leonlemmer Avatar
    leonlemmer

    Daar is ‘n koerantberig (Die Burger, 23 deser, p 24) wat glad te min aandag ontvang het. Die afrigter van die
    All Blacks, Steve Hansen, het gesê dat sy Bok-eweknie, Heyneke Meyer, onder geweldige druk is omdat
    Suid-Afrika se reels vir spankeuse totaal van die res van die wêreld s’n verskil. [Tog is daar diegene wat graag beweer dat Suid-Afrika deesdae ‘n normale samelewing is.] “Hulle het ‘n kwota en dit maak dit moeilik, sterkte aan hom … Ek kan nie sê wie kwotaspelers is nie. Maar die feit van die saak is dat hulle hul span anders as die res van die wêreld moet kies. Ek weet nie veel daaroor nie, maar weet net hulle moet ‘n kwota kies. Ek hoef dit nie te doen nie. Ek kies net die beste spelers. En ek meen dis hoe enige sportspan gekies behoort te word.” Hansen het gesê hy wil nie te diep hierin delf nie, anders sal hy oral in die moeilikheid beland.

    In die vorige politieke bedeling is Suid-Afrikaanse sportspanne geboikot en verbied. Politiek en sport mag glo nie gemeng word nie en daar mag nie rasse-diskriminasie wees nie. Kwotas is rasgegrond en is daar om
    politieke ANC-redes. Tog klink geen beswaar van internasionale sportliggame, bv vir rugby en krieket, op nie.

    1. ThysH Avatar
      ThysH

      Dis interessant! En natuurlik is Hansen volkome korrek, maar hulle sal steeds sy kop ier in SA eis.

      Maar ek wil nou beswaar maak teen die voortgesette beskrywing van hierdie rugbyspan (en ook sekere ander sportsoorte) as “Springbokke”. Hulle is mos duidelik eerder Bontbokke.

      1. Riempies Avatar
        Riempies

        Presies Thys, – Die ei en sie het mos die Springbok embleem
        van die bors laat afhaal en dit op so klein as moontlik op die mou laat plaas en die Springbok vervang met die
        Protea op die bors. Nou nie dat die buiteland hulle laat voorsê van die spul nie. Plaas en hou hulle hulle besig met hulle hopelose sokkerspan.

    2. Karel Combrinck Avatar
      Karel Combrinck

      Maar net weer die ou ou storie, Leon, daar MAG teen wittes gediskrimineer word. Dit sou dan moes wees ten einde “ongeregtighede” van die verlede “reg te stel”. Wie het al ooit daaraan gedink om ongeregtighede wat in die verlede teen ons gepleeg is, en daagliks nog gepleeg word, reg te stel?

      1. Riempies Avatar
        Riempies

        “Hulle mag teen ons diskrimineer” My teenvraag is: Kan hulle
        regtig dit regtig regkry in die volle sin van die woord? Dan stroom die Sjinese die land ongemerk binne teen n skrikwekkende tempo. Eintlik wens ek hulle hierdie lat vir hulle bas toe met groot n gejuig.

    3. Rooikop Avatar
      Rooikop

      Hansen waag sy nek met hierdie uitlatings – ten minste wys dit dat dinge hier nie ongesiens verbygaan nie. Miskien is dit tyd dat die wêreldsportliggame boikotte toepas juis a.g.v. die diskriminiasie teen die blanke minderheid in ons spanne.

  4. eduard Avatar
    eduard

    En sekerlik sal die kerkbanke weer volgesit wees na die neerlaag. O wee my, o wee my, waar het ons verkeerd geloop?

    1. jan Avatar
      jan

      Eduard – dis juis omdat die Kerkbanke NIE meer volgesit word NIE dat alles verkeerd verloop. Eerder die kroegbanke en losiebanke en parkbanke word vol gesit.

  5. Jakkie van der Colff Avatar
    Jakkie van der Colff

    Dan. die huidige volkslied bevat vyf tale. Drie swart tale plus Afrikaans en Engels. Wil nie iets sê oor die gekleurde spelers nie. Vir my gaan dit oor “Kies die beste, ongeag watter sport.” En dan, rig die span af deur moderne tegnieke en spelpatrone/-wyses. Die 1960-ger jare is verby. Sorg dat administrateurs in beheer is wat liefde vir die sport het en nie vir die finansiële voordele daar is nie. En dit geld alle sporte soorte.

  6. Hans Onrust Avatar
    Hans Onrust

    dat over elkaar heen en aan elkaar hangen en achter elkaar aan rennen van die meestal corpulente mannen, als een soort ruigpoten, geniet niet overal even veel aanzien en bewondering. Maar ja, ‘money makes the world go round’ en die ‘bal nog rond. En getier en gejoel kan men beter concentreren met een groot hek erom heen.

    In bv. Nederland kon de grotendeels op hol geslagen achterlijkheid in 1988 voor het eerst duidelijk waargenomen als voorbode van de, bij gebrek aan beter, politiserende voetbaldictatuur. Met multi culti en corruptie en bedrog en zwendel met subsidies voorop.
    Maar ondanks alle verdelende vrouwenrechten zijn er nog geen gemengde elftallen en de eerste vrouwelijke spits moet nog gekocht voor € 80 miljoen. Waar of niet dames ?

    Natuurlijk werd en door handige handelaren links en rechts wel een flink financieel slaatje uitgeslagen om het ‘winnende wij gevoel’ bv. vol te gieten met Heineken bier.
    Taferelen die daarvoor alleen bekend waren vanuit de sloppenwijken van Napels en Madrid e.d.

  7. Adi Avatar
    Adi

    Ek stem in beginsel saam met die artikel, Dan, maar ek moet net bysê dat jy versigtig moet wees oor jou uitlatings oor die nie-blanke spelers. Victor Matfield en Jannie du Plessis is baie groter kwotas as Mtawarira, Habana of Pietersen.

  8. Rooikop Avatar
    Rooikop

    Hierdie was die laaste wêreldbeker waar die span oorwegend wit was. Ek reken dit is maar hoekom hulle van die ou garde gekry het om te kom speel.

    Ek voel vere vir die (of enige ander) sport – dit is juis die opium, die verdowing waarmee ons mense verslaaf is om die land weg te gee. Albert se twietaanhaling hierbo is in die kol. Dr Dan se opsomming ook “Wen of verloor, op die ou einde verloor ons almal.”.
    Outonomie in enige besluite – nie sport nie, nie skooltaalbeleid nie NIKS word eintlik meer geduld nie. DIe land is kommunisties, die mense slawe van ‘n onderdrukker regime.

Leave a Reply