In Brussel gaan die 27 EU-lande Vrydag moet besluit om baie vinnig ‘n humanitêre sending aanmekaar te sit om die 250 000 mense in die ooste van dié land te help, nadat hulle ontwortel is deur aanvalle van rebellesoldate, het Kouchner gesê.
EU-lande sal ook moet besluit oor hoe die VN-vredesmagte, wat op 17 000 die grootste vredesmag ter wêreld is, verder versterk kan word.
Soldate wat deur die wegbreek Toetsi-generaal, Laurent Nkunda, gelei word, het Donderdag die buitewyke van die dorp Kanyabayonga, in die noord-Kivuprovinsie bereik. Honderde regeringstroepe en vredesmagtelede is in die dorpie ingegrawe.
Nkunda se troepe het ook Goma, die streekshoofstad van die Kivuprovinsie, vir die afgelope twee weke omsingel. Dié aksie het die VN geforseer om nog vredesmagsoldate daarheen te stuur om te help met die verdediging van die stad en sy ongeveer halfmiljoen burgerlike inwoners.
