Obama se keuses

Dat Obama groot steun geniet onder Afrikane, in Afrika sowel as in die VSA, is gewis. Ook in Europa het sy bewonderaars gegroei. Alle aanduidings is dat hy vandag geskiedenis gaan maak as Amerika se eerste verkose swart president. Die verwagtinge van wat Barack Obama kan vermag, is kennelik besonder hoog.

'n Nigeriër swymel vanoggend tydens 'n onderhoud op RSG dat Afrika nou meer as ooit hulp uit Amerika sal sien vloei om armoede op die swart kontinent op te los. In Kenia volg algar die verkiesing met gespanne aandag. Selfs in die suide van Irak, wat gebuk gaan onder sektariese geweld sedert die Amerikaanse inval, sien die nasate van slawe reikhalsend uit na Obama se oorwinning.

Maar Barack Obama het 'n paar moeilike besluite wat voorlê, waarvan die ekonomie en die VSA se sending na Irak nie die geringste is nie. En dan is daar die kwessie van Iran wat effens uit die openbare oog verdwyn het, maar steeds iewers op 'n agterplaat prut.

Die nuwe swart president mag dalk besluit om Iran binne te val om sodoende hulle kernprogram te stuit. Dis in elk geval waaroor 'n paar ingeligte bronne ná aan die Withuis spekuleer.

Die Bipartisan Policy Center, in Washington, sê in 'n verslag dat die volgende administrasie "minder tyd en minder opsies gaan hê om met die bedreiging [uit Iran] te handel". Dit sluit vanselfsprekend nie 'n militêre aanval op Iran uit nie en 'n aantal gesaghebbende meningsvormers is dit eens.

Van die opstellers van die verslag is Dennis Ross, die top Midde-Oosterse adviseur vir Obama, en vorige Senator Dan Coats, 'n McCain adviseur. Aanvanklik, aan die begin van sy veldtog, het Obama gesê hy wil met Iran se leiers onderhandel, maar sedertdien het hy die uitspraak herhaaldelik gekwalifiseer.

Ross sê daar is basies net twee opsies, 'n Amerikaanse militêre inval in Iran of aanvaarding dat Iran 'n kernmoondheid is. En Iran sal teen 2010 genoeg kernbrandstof produseer om 'n kernwapen aanmekaar te kan sit.

Dit gaan Amerika se eerste swart president voor 'n dwingende keuse plaas.

освещение магазинов обувиФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae