Gloria Fernandez, hoof van die VN se kantoor vir die koördinering van humanitêre aangeleenthede, het Sondag aan verslaggewers gesê “’n konvooi vertrek môre (Maandag) uit Goma met VN humanitêre agentskappe en met NRO’s om die eerste noodlenigingstasies in die omgewing te gaan opsit.”
Sy het gesê dat hulle met die rebelle, die VN-vredesmagte en die weermag onderhandel het om ‘n baan oop te hou wat die daarstelling van sekere humanitêre aktiwiteite sal vergemaklik.
Duisende ontwortelde mense wou Sondag terugkeer na hulle huise in die ooste van die DRK terwyl die skietstaking in werking is, maar Europese diplomate het gewaarsku dat daar 1,6 miljoen mense blootgestel is aan risiko.
“Meer as 1,6 miljoen ontwortelde mense is vasgekeer in die krisis, en kan nie maklik bereik word nie” het die Britse minister van buitelandse sake in Dar Es Salaam gesê. “Hulle is sonder kos, water en ander benodigdhede” het hy bygevoeg.
Die Rutshuru-gebied is buitengewoon hard getref deur gevegte tussen rebelle wat deur voormalige generaal Laurent Nkunda gelei word (wat die Toetsi-bevolking teen Hoetoebendes beskerm) en die weermag.
Derduisende mense wat in kampe in Rutshuru gewoon het, was verplig om na nabygeleë dorpies en woude te vlug.
