Tans verlang Shilowa dat dieselfde verguisde, onderdrukte blankes hom by die stembus moet steun. Sekerlik bestaan daar blankes wat deurtrek is van wit skuld en in die nuwe wegbreekparty 'n opportunistiese moontlikheid sien om mag te bekom. Sodanige blankes mag dalk vir die nuwe party stem.
Aan die ander kant verteenwoordig hierdie oproep aan "die blankes" om hul party te steun 'n erkenning deur Shilowa en Lekota dat hul steun onder die breë swart bevolking beperk is. Zuma, die populistiese swart leier, se greep op die gewone swart kieser is waarskynlik sterker as dié van Shilowa en die ander wegbrekers. Shilowa en kie. behoort hoofsaaklik tot die Mbeki-faksie. Tot en met die paleisrevolusie deur Zuma, het Shilowa-hulle nader aan die mag gestaan en het hulself heerlik uit die staatskas, staatstenders en SEB-transaksies verryk.
In elk geval bestaan daar geen solidêre blanke groep in die land meer nie. 'n Gedeelte van die Engelssprekendes is steeds besig met 'n stryd teen die Afrikaner en die huidige stelsel is vir hulle daarom 'n bron van leedvermaak. Die minder anti-Afrikaanse deel van die Engelse blankes is verward en wag op een of ander inisiatief wat uit Afrikanergeledere moet kom.
Onder Afrikaners is daar die aanhangers van die oorgawekultuur van die vorige NNP en Nasionale Pers wat meen dat ons geen politieke rol meer in die land te speel het nie en bloot transformasie as "skuldige blankes" behoort te ondergaan. In terme van dié blankeskuldidee is Shilowa se oproep 'n contradictio in terminis, want blankes mag geen rol meer speel nie.
'n Verdere teenstrydigheid is natuurlik dat Shilowa se oproep aan blankes die amptelike "nie-rassigheid" van die grondwet weerspreek. Ook die media en veral Nasionale Pers se koerante en TV-kanale voer lankal reeds 'n veldtog om die publiek te oortuig dat die begrip "blanke" eintlik 'n illusie is en dat almal van ons "biologiese Afrikane" is wat van die Australopeticus afstam.
Waarskynlik stel Shilowa nie veel in die Afrikanerstem belang nie, anders sou hy 'n beroep op Afrikanersteun, pleks van blanke steun, gedoen het.
Die ANC mag reg wees in dié sin dat Shilowa en Lekota hulself eerder gaan posisioneer om stemme van die opposisie af te rokkel, as van die ANC self. Pleks van 'n tweede ANC, gaan ons moontlik met 'n tweede DA sit wat homself as nie-rassig voorhou maar kort-kort 'n beroep op blankes doen om hom te ondersteun.
Die opposisiekieser gaan dus een van die dae dalk, soos die Amerikaanse Demokrate, moet kies tussen 'n blanke (Engelssprekende) vrou en 'n swart man. Indien die Amerikaanse neiging ook hier gaan geld, sal die liberale opposisiekieser dalk eerder vir 'n swart man stem as 'n blanke vrou.
Gegewe die kwynende blanke demografie, ook vanweë emigrasie, gaan 'n party wat hom, anders as die ANC, nie regstreeks op swart rassenasionalisme beroep nie, maar bedroë daarvan afkom.
