El Baradei het in sy toespraak aan die Nasionale Vergadering gesê dat daar byna 250 gevalle van diefstal was in die jaar wat teen Junie ten einde geloop het.
Lede van El Baradei se personeel en onafhanklike deskundiges van buite af meen egter dat die hoeveelhede gesteelde materiaal klein is, en selfs as al die materiaal gekombineer word dit te min sal wees om ‘n kernwapen aanmekaar te kan sit.
Dit is ook onseker of die stygende getal aanmeldings van diefstalle die gevolg is van ‘n verhoogde mark vir die materiaal, of beter oplettendheid onder die lidlande.
Die idee dat daar wel ‘n mark kan wees vir sulke materiaal is steeds kommerwekkend, het hy gesê, veral indien van die materiaal in ’n sogenaamde “vuil bom” kan beland.
Die bedreiging van so bom 'n is minder ten opsigte van die bestraling as die paniek wat so 'n aanval sal veroorsaak, het Christina Hansell, ‘n professor by die sentrum vir kernontwapening in Monterey, Kalifornië, gesê.
Die grootste kommer oor die diefstalle is gesetel in lande wat voorheen deel was van Rusland, waar kernprogramme wydverspreid was, maar die diefstalle kom tog orals voor.
Hansell het as voorbeeld ‘n oliemaatskappy genoem, wat verlede Meimaand die diefstal aangemeld het van ‘n apparaat wat radioaktiewe materiaal bevat. Die apparaat wat vir verkenningswerk in Soedan gebruik is, het spoorloos verdwyn.
Sy het genoem dat dit baie lang blootstelling aan die apparaat sal neem om enige gesondheidsrisiko te veroorsaak. Wanneer ‘n “vuil bom” afgaan, sal "dit die ontploffing wees wat mens doodmaak, nie die bestraling nie” het sy bygevoeg.
Sy het verder gesê dat ten spyte van pogings om dié tipe diefstal te polisieer, die hoeveelhede wat verdwyn aanhou styg, en dat dit ‘n groot probleem is.
El Baradei het sy hoop uitgespreek dat Nood-Korea weer sal terugkeer na die kernwapensperverdrag en hy het Iran ook gekritiseer vir sy pogings om die agentskap te verhoed om vas te stel of daar kernwapens in dié land ontwikkel word.
Sin Sang-chol, Noord-Korea se verteenwoordiger by die VN, het die moniteringsagentskap daarvan beskuldig dat hulle namens Washington op Noord-Korea spioeneer, en het die organisasie as bevooroordeeld en onregverdig beskou.
Die Iranse ambassadeur by die VN, Mohammad Khazaee, het sy land se kernprogram verdedig en dit as vreedsaam voorgehou, terwyl hy vinger gewys het na Israel, wat klaarblyklik wapens ontwikkel buite die kernsperverdrag se raamwerk.
Daar word baie wyd aanvaar dat Israel wel kernwapens het, maar die Israeli-regering het dit nog nooit erken nie.
Khazaee noem die beleid om Iran te stop om uraan te verryk voordat daar oor ekonomiese en ander sake onderhandel word ‘n irrasionele en mislukte beleid.
