Generaal Hannibal Barca was die aanvoerder van die Kartaagse leër tydens die Tweede Puniese Oorlog wat teen die magtige Romeine gestry is en hy word gesien as een van die beste veggeneraals van die antieke era. Slegs Alexander die Grote en Scipio Africanus word saam met hom gereken.
Tog was die ligging en terrein van die groter prentjie téén die Kartagers. Hannibal se taktiese briljantheid kon nie ‘n gedoemde strategie wat deur sy politieke meesters opgestel is, red nie.
Die Romeine het in der waarheid die beter strateeg gehad. Fabius Maximus, die Roomse Konsul tydens die oorlog het die naam “Skild van Rome” verwerf. Aanvanklik het sy vertragingsaksies kritiek uitgelok, maar uiteindelik skryf die digter Quintis Ennius van hom: “één man het deur te vertraag, die Staat aan ons terug besorg ”.
In 154 VC het ‘n Roomse vloot ‘n weermag na Afrika gebring, die Kartagers is verslaan, hul roemryke stad Kartago is tot op die grond afgebrand, al die inwoners vermoor of weggevoer en volgens oorlewering is as laaste daad die aarde waarop Kartago gestaan het met sout besaai sodat daar nie weer iets sou groei nie.
Die getalle-oorwig van die Romeine, hul onverbiddelikheid in hul vervolging van bedreigings en hul bereidwilligheid om eers te vertraag wanneer nodig sodat hulle hul staat terug kon wen, het die grondslag gevorm vir Rome se oorwinning oor Kartago, en so is die Fenisiese beskawing (die eerste staatkundige beskawing om ‘n alfabet te gebruik) tot haar einde gebring.
Vandag kan Afrikaners nie ‘n weermag monster wat ons aan ons eie veggeneraal kan toevertrou om oor ons poorte te waak nie, want ons weet nie eens waar óns poorte is nie. Hoe ons in hierdie situasie beland het, is uiters betreurenswaardig. ‘n Honderd-en-tien jaar gelede het pres. Paul Kruger gesê: “Vat ons goud, maar los ons Vryheid.” Drie jaar later moes Generaal De la Rey pleit: “Vat nou maar ons Vryheid, maar laat ons Volk net leef.” Vandag sukkel ek om tot begrepe te kom met pres. FW de Klerk se: “Vat ons Vryheid, maar los ons goud” nie, want goud kan nie behou word sonder die vryheid wat daarvoor vereis word nie, maar ons kan nie bekostig om te stry vir ons goud waar vryheid afhanklik is van die goeie guns van die meerderheid, en ons daardeur die risiko loop om ons Volk se lewe verloor, nie.
In Afrika word mag nie gekoop nie, dit word met getalleoorwig gewring van die hande van die houers daarvan, soos die welvarende Kartagers en alle koloniste sedertdien uitgevind het.
Dit is waar dat die meerderheid Afrikaners en ons goud vandag in Pretoria lê, maar die getalleoorwig van die Afrikaniste is dáár so téén ons, dat ons die stryd om ons pleknaam verloor het, dertig jaar voordat dit begin het.
‘n Volk, soos ‘n individu, kan geld en invloed gebruik om sy lewe te verbeter, maar hy kan nie daarmee sy lewe terugkry nadat hy dood is nie.
Prof. Lawrence Schlemmer het by die onlangse FAK-konferensie statisties getoon dat 50% van Afrikaner-mans vandag selfwerksaam is met ‘n eie bedryf. My raad aan Afrikaners is om jul huise in Pretoria te verkoop terwyl daar nog ‘n mark voor is, sodat julle julself met relatiewe luuksheid in Orania kan kom hervestig, waar óns deur volkseie arbeid steeds daardie ontwykende voordeel van getalleoorwig kán bekom, sodat ons in staat gestel kan word om onsself te laat geld. Vir die huidige geslag en die komende.
Laat die Derde Afrikaner opstaan en begin bou aan ons Afrikanerstad wat moet kom. Dan sal ons vry wees om onsself te wees.
