Seerowers bedreig roete tusse Asi? en Europa

Image

Golf van Aden, aan die kus van Somali?

Die Golf van Aden en die ooskus van Somalië word nou gereken as dié plekke waar seerowery die meeste voorkom. Byna ‘n derde van alle aanvalle op skepe die jaar het in die gebied voorgekom, het die Internasionale Maritieme Buro (IMB) op Donderdag gesê.

Die seerowers is ‘n bedreiging vir handelsvaartuie wat op die roete beweeg tussen Asië en Europa, het die IMB gesê, en ook regerings aangemoedig om voorkomende aksie te neem teen seerowers.

Aanvalle van seerowers aan die kus van Somalië is op ‘n ongekende hoë vlak, en dit is duidelik dat die seerowers in die Golf van Aden dink dat hulle ongestraf kan voortgaan met hulle aanvalle op ander vaartuie, het Pottengal Mukundan, direkteur van die IMB gesê vanuit die organisasie se hoofkantoor in Kuala Lumpur.

Die organisasie het gesê dat ‘n totaal van 199 voorvalle van seerowery wêreldwyd plaasgevind het tussen Januarie en September, waarvan 63 gevalle aan die Somaliese ooskus en in die Golf van Aden was.

Wat nou nodig is, is sterk aksie teen die seerowers se moederskepe voordat hulle daarin slaag om ander skepe aan te val, het Mukundan gesê. Hy het ‘n beroep gedoen op regerings om aan hulle vlote opdrag te gee om die aktiwiteite van die seerowers en hulle moederskepe te ontwrig. Hy het bygevoeg dat die liggings en beskrywings van die moederskepe wel bekend is.

Nigerië is geskat as die tweede gevaarlikste plek wat seerowery betref, met 24 insidente, waarvan 20 om Lagos, die hoofstad plasgevind het. Die organisasie sê egter dat die aanvalle om Nigerië net ‘n klein persentasie van die werklike aanvalle verteenwoordig.

Indonesië was derde op die lys, met 23 aangemelde aanvalle, maar die organisasie het gesê die aanvalle is versprei, en almal, behalwe vir twee gevalle was “lae vlak” insidente, wat diefstal van waardevolle goedere en voorrade van skepe af behels het.

Wetteloosheid is vinnig besig om te versprei terwyl Somalië verval in die ergste gevegte in 20 jaar. Dit voed weer ‘n golf van seerowery wat vaartuie in die Golf van Aden, een van die belangrikste waterweë in die wêreld bedreig.

Somaliese beamptes sê die groot lospryse wat deur die skeepseienaars betaal word blaas korrupsie aan, tesame met ‘n opbloeiing in seerowery wat hulle nie tans kan wen nie.

Die verskuiwing van die fokus van die seerowers van die ooskus van Somalië na die golf van Aden plaas ‘n groot bedreiging op die handel tussen Asië en Europa.        

      

стоматологияФильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae