Beleggers in globale markte soek tans na 'n veilige hawe vanweë die dalings in eiendom en aandele. Die dollar en jen baat by die sogenaamde "vlug na kwaliteit" wat aan die gang is. Dit lei ook daartoe dat buitelandse beleggers hul fondse vanuit Suid-Afrika onttrek terwille van die groter geldeenhede.
Oornag het die Amerikaanse aandelemark weer skerp gedaal ná slegte kleinhandelverkoopsyfers in die VSA. Die Standard & Poors 500-indeks het die grootste persentasieverlies sedert Swart Maandag op 19 Oktober 1987 beleef met 'n daling van 9,03% tot 907.84. Die Down Jones-nywerheidsindeks van 30 aandele het met 7,87% afgeneem tot 8577,91.
Ook in Asië het beurse vanoggend skerp gedaal met die Nikkei in Tokio wat met 11,41% tot 8 458,45 getuimel het. Europese markte het vanoggend net ná die openinge met meer as 5% gedaal.
