Ruyigi provinsie was die laaste paar weke die toneel waar grusame moorde die voorland van albino's was, waarna hulle liggaamsdele aan toordokters verkoop is.
Die liggaamsdele word in Tanzanië verkoop. Die mense sit die dele op goudmyne, waarna die goud na bo kom en net bymekaar gemaak moet word, het Ciza vertel, vrees duidelik sigbaar in sy blou oë.
Ciza was in die veiligheid van die Ruyigi provinsie se streeksaanklaer se kantoor, maar steeds in 'n geskokte toestand. Dié betrokke beampte se kantoor is in 'n plek van veiligheid omskep waar albino's kan skuil, omring met 'n muur van 3 meter hoog. Vyf-en-twintig albino's van regoor die land het reeds daar skuiling gesoek.
Nadat daar 'n vergadering gehou is met die administrasie, die polisie, plaaslike parlementslede en mense wat die albino's verteenwoordig, is daar besluit om al die albino's bymekaar te kry in die Ruyigi distrik om hulle veiligheid te waarborg.
Op 22 September is 'n 16 jarige albinomeisie in Nyabitsinda vermoor, 'n paar dae later was dit 'n man in Bweru. Nog twee moorde is ook aangemeld uit ander dele van die land.
Polisie het vasgestel dat die liggaamsdele, organe en bloed na Tanzanië gesmokkel word en aan toordokters verkoop word om moetie van te maak.
Noordelike Tanzanië loop erg deur onder grusame insidente van toorkuns, soveel so dat spesiale beskermingsprogramme deur die president in plek gestel is.
Die aanvraag in dele van albino's is nou baie hoog in Tanzanië en alle albino's daar voel bedreig, maar die gebied met die grootste risiko is Ruyigi, waar toorkuns diep gewortel is.
Die 8 jarige Ephrem het saam met sy pa die 10 kilometer geloop na die veilige hawe van die aanklaer se huis in Ruyigi. Sy pa is baie ongelukkig daaroor dat hulle net oor die kleur van hulle vel 'n kommersiële waarde het en gejag word deur sommige mense.
Protais Muzoya, die seun se pa het 10 kinders, waarvan 2 albino's is. Hy is erg benoud, aangesien 'n meisie nie ver van waar hulle woon nie vermoor is, net omdat sy ook 'n albino is. Haar arms is afgekap en haar bloed versamel.
Nadat hy die storie van die meisie vertel het, het 'n kar gestop en hulle 'n geleentheid aangebied dorp toe. Die seun het erg gespartel om nie in die kar te klim nie, waarna Protais die geleentheid bedank het. Die vrees en paniek op die kind se gesig was eens te veel.
Die handvol albino's in die streek het al kragte saamgesnoer en ruil oorlewingsidees uit. Albinisme is 'n gebrek aan melamien, die kleurpigment in die vel, hare en oë wat beskerming bied teen die son se ultra-violetstrale. Albino's is vatbaar vir mediese komplikasies en sosiale diskriminasie in Afrika.
Terwyl hulle vroeër net vir die son moes skuil, moet hulle nou ook vir meer fisiese bedreigings vlug in die streke van Burundi en Tanzanië.
Die bedreiging teen albino's is baie werklik. Richard Ciza moes vlug voor vier mense wat met gewere gewapen was en het vir twee dae in die woud geskuil, het Gahimbare vertel.
Daar word gesê dat dié moordenaars soveel as 600 miljoen Tanzaniese sjieling (500 000 dollar) kan verdien met een albinoliggaam.
