Kundera, bekend vir sy boeke wat in Engels vertaal is as "The Unbearable Lightness of Being" en "The Joke," het Miroslav Dvoracek by die polisie gaan aanmeld waarna Dvoracek tot 22 jaar gevangnisstraf gevonnis is. Hy was trouens gelukkig om die doodstraf vry te spring. Dvoracek het 14 jaar van sy lewe in 'n uraanmyn gewerk swaar arbeid verrig.
Kundera het die aantygings ten sterkste in 'n verklaring wat deur sy Franse uitgewer Gallimard uitgereik is, ontken. Hy het in 'n televisieonderhoud in Tsjeggië, een van die min wat hy toestaan, gesê dit is 'n "sluipmoord op 'n outeur".
Kundera, wat in Frankryk woon en in Frans skryf – sy onlangse boeke is nie in Tsjeggies vertaal nie – is bekend in Tsjeggië maar nie geliefd nie. Hy was eers 'n lid van die Kommunistiese Party, maar in 1968, met die inval in Praag, is hy afgedank as onderwyser.
Alhoewel Kundera ontken dat hy as 'n geheime agent gewerk het, is die Instituut in besit van 'n inskrywing wat om 4 nm, 14 Maart 1950, by 'n polisiestasie ingedien is deur hom. Daarin vertel hy dat 'n sekere Iva Militka 'n briewetas aan 'n medestudent gegee het om veilig te bewaar. Die polisie het Militka gaan inwag en vasgestel dat die student onder 'n vals identiteit ingeskryf is en hom in hegtenis geneem.
In die tas was twee hoede, twee pare handskoene, twee pare sonbrille en 'n buisie room. 'n Navorser, Adam Hradilek, het hierdie jaar per ongeluk op die inskrywing afgekom. Die Instituut is in Februarie geopen.
