As onderhandelingspartye voel hulle dat daar nie maklike maniere is om moeilike besluite te neem nie. Die leier van die Beweging vir Demokratiese Verandering Morgan Tsvangirai, het Donderdag die dooiepunt in die samesprekings oor die samestelling van 'n nuwe regering met die regerende party veroordeel. Hy het 'n beroep op die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika Unie gedoen om in te gryp.
Zanu-PF en die MDC het sedert die ooreenkoms oor magsdeling op 15 September, verskeie kere samesprekings gehou sonder om tot 'n vergelyk oor die toewysing van ministeries en regeringsagentskappe te kom. Die MDC sê Zanu-PF wil die invloedryke portfolio's soos verdediging, binnelandse sake, finansies en plaaslike regering beheer.
Die regeringsmondstuk The Herald, berig dat die samesprekings voortgaan en dat President Robert Mugabe na verwagting Tsvangirai en die hoof van die MDC-splintergroep Arthur Mutambara, vandag sal ontmoet. Maar MDC-woordvoerder Nelson Chamisa sê hulle het geen korrespondensie oor die ontmoeting gekry nie.
