Dit is na aanleiding van die inligting dat die partylede ontplooi het regoor die land om ondersteuning op te bou vir die opkomende verkiesing van volgende jaar.
Die ANC sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sal Vrydag die Oos-Kaap besoek om die mense daar te kalmeer, en daar word bespiegel of hy ook die Wes-Kaap sal besoek.
Na wat verstaan word sal hy vergaderings hou met ontevrede lede van die ANC -akke in die Wes-Kaap wat klagtes gehad het oor die verkiesingsproses by ‘n provinsiale kongres ‘n paar weke gelede.
Die ANC is bekommerd dat die lede baie waarskynlik by Lekota se wegbreekparty sal aansluit as dit wel tot stand kom. In ‘n poging om vrede weer te herstel sou Mathews Phosa vandag met Mosiuoa Lekota ontmoet oor dié se stelling dat hy “egskeidingsdokumente” op die ANC bedien het. Volgens Phosa is daar steeds maniere om die verhouding weer te herstel. Lekota het vandag nie vir die vergadering met Phosa opgedaag nie.
Aubrey Matshiqi, ‘n prominente politieke analis het vandag gesê dat ‘n wegbreek faksie va die ANC dalk nie tyd sal hê om genoeg steun te mobiliseer nie, maar het wel gesê dat ‘n koalisie tussen die DA en die Onafhanklike Demokrate dalk in die Wes-Kaap te voorskyn kan kom.
Hy het ‘n stelling van die Onafhanklike Demokrate voorgehou, waarin hulle bereid is om in ‘n koalisie tretree, maar nie met die ANC-onderleierskap van Mcebisi Skwatsha nie. Dit laat die DA as kandidaat in die veld.
Die groot stryd gaan wees tussen die DA, ANC en die OD in die Wes-Kaap. Indien ‘n nuwe party enige grond sal wen, sal dit eerder in die Oos-Kaap wees, het hy gesê.
DA-leier Helen Zille het gesê die DA is sterk genoeg om ‘n verkiesing te wen en is die enigste party wat groot genoeg is om die ANC te stop.
Die grootste bedreiging vir die ANC is die moontlike verbreking van die party se dominansie in die Oos-Kaap, waar die ongelukkigheid met Thabo Mbeki se ontslag die hoogste is.
Die Oos-Kaap hou môre ‘n vergadering waar Mantashe die uitvoerende komitee sal toespreek. Die vergadering is reeds lank in die pyplyn, aangesien dit ook ‘n alliansiespitvergadering sal wees, het provinsiale segspersoon Andile Nkuhlu gesê.
Volgens Nkuhlu is die vergadering reeds drie keer uitgestel, en het dit niks met Lekota se party uit te waai nie, hoewel dit ook bespreek sal word. Hy het die mediaverklarings dat die ANC bang is om die Oos-Kaap te verloor aan ‘n splinter-aksie afgemaak as sensasiemakery.
Ander senior leiers het wel gesê dat hulle gereed is om die ANC te los en het strukture wat reg is om te volg. Verder is dit ook berig dat lede van nege takke in die Port St Johns gebied reeds by die DA aangesluit het.
Nog ‘n probleemprovinsie vir die ANC is die Vrystaat. Jacob Zuma het gesê dat die party probeer om die kloof tussen de premier Beatrice Marshoff en die party te herstel.
