Rusland is tans besig om invloedryke groepe in die Weste te finansier soos hulle tydens die Koue Oorlog in Finland gedoen het. Een só 'n voorbeeld is die dramatiese hulppakket van 4 miljard euro wat Rusland hierdie week aan Ysland toegestaan het om hulle van bankrotskap te red. Maar die grootste behoefte, sê Edward Lucas, skrywer van The New Cold War, is 'n nuwe energiestrategie om die Russe te stuit.
Hy sê Gazprom moet aan dieselfde reëls as Microsoft onderwerp word. Nie net is Gazprom, die Russiese energiereus, 'n werktuig van die Kremlin se buitelandse beleid nie, maar is hulle bedrywig met prysvastellings en allerlei wat kompetisie inhibeer. Hy stel ook voor dat die banke strenger bepalings instel sodat dit nie moontlik is om in Oostenryk by 'n bank op te daag met 'n koffer vol note nie.
Maar hy erken dat Doebaai, Shanghai en Moembaai reeds met Londen meeding as alternatiewe finansiële sentra en dat geldwassery wat lande in staat stel om invloed te koop, makliker raak in plaas van moeiliker.
