'n Nasionale Intelligensie Beraming is 'n formele dokument waarin al 16 intelligensieagentskappe 'n konsensus bereik het. Alhoewel die Withuis van die inligting oor Irak bekendgemaak het, bly die meeste sulke verslae geheim. Die jongste dokument is die eerste sedert die begin van 2006 toe die Taliban sekere gebiede van Afghanistan oorgeneem het.
Vyftig persent van Afghanistan se ekonomie is afhanklik van die uitvoer van heroïen wat 'n destabiliserende uitwerking het. Die CIA sê in die verslag dat die afwaartse gly na geweld en korrupsie nie gou genoeg aangespreek is deur die VSA nie en dat die bykomende troepe wat die Bushadministrasie gestuur het, nie die gety sal kan laat draai nie. Hulle voel te veel klem is op Irak gelê en nie genoeg op Afghanistan nie.
Henry Crumpton, 'n CIA-amptenaar, skryf die probleme in Afghanistan toe aan 'n gebrek aan leierskap in die Withuis en Europa. Crumpton was aan die hoof van 'n sending na Afghanistan na 9/11 en alhoewel hy nog nie die uitgebreide verslag onder oë gehad het nie, sê hy die land se toestand gaan van sleg na slegter.
Senatore Barack Obama en John McCain het albei reeds gevra dat addisionele troepe na die land gestuur word, meer as wat die Withuis aangedui het. Obama sê hy het aan die huidige Afghaanse regering gesê hulle behoort te probeer om meer gewild te raak by hulle landgenote.
Die VSA wil nie gebruik maak van stamhoofde vir hulle strategie op die platteland nie, en dit is juis waar die Taliban tans goed ingegrawe is. Die stamstelsel kan 'n beduidende verskil maak indien dit teen die insurgente aangewend word, meen kenners.
