Ses betogers in Pakistan doodgeskiet

Image

Swat-distrik (geel) in Pakistan

07:24:57 Ses mense is Dinsdag dood toe veiligheidsmagte op 'n betoging teen burgersterftes tydens die voortslepende offensief in die noordwestelike Swat-vallei geskiet het.

Die betoging het Maandag begin ná 'n mortierbom 'n huis in die Allah Abad-gebied van die Swat-distrik in Pakistan se noordwestelike grensprovinsie getref het. 'n Vrou en haar twee kinders is in die aanval dood.

Inwoners het die liggame van die slagoffers na Mangora-stad vervoer waar die Leërhoofkwartier geleë is. Meer as 8 000 mense het aan die betoging deelgeneem. Die protesaksie het Dinsdag in getalle toegeneem toe meer as 20 000 mense 'n aandklokreël verbreek het en slagspreuke teen die soldate in die strate van Mangora geskreeu het.

Die militêre magte voer 'n operasie teen Taliban-militantes in die gebied uit. Woordvoerder Mohammad Ali sê regeringsmagte het daarheen gekom om die strydlus te beëindig maar dit het eerder toegeneem. Hy sê dit gaan goed met die militantes maar die burgerlike bevolking ly. Ali beweer dat meer as 600 000 mense ontwortel is en honderde weens die konflik dood is. Die bevolking staar ook voedsel- en medisyne tekorte in die gesig.

Hewige gevegte tussen regeringsmagte en Taliban-militantes teister sedert verlede Oktober die Swat-distrik wat eens 'n gewilde toeristebestemming was. Islamabad het duisende soldate gestuur om die rebellie deur die ondersteuners van die radikale geestelike Maulana Fazullah in die kiem te smoor. Die nuwe regering in Islamabad het vredesonderhandelings met die militantes aangeknoop nadat dit in Maart aan bewind gekom het maar het 'n maand later weer tot die offensief oorgegaan nadat die onderhandelinge skipbreuk gely het.    

кухни киев купитьДанильченко

Maak 'n opvolg-bydrae