Ooggetuies sê die monnik, wat vermoedelik in sy vyftigerjare was, is na die Jangon-algemenehospitaal geneem nadat hy Dinsdag sy keel by die Sjwedagon-tempel probeer afsny het. Die ooggetuies wou nie hulle name genoem hê nie uit vrees dat hulle die aandag van die land se militêre owerhede op hulle vestig.
Een van die trustees van die tempel, wat ook naamloos wou bly, sê die monnik het gesê hy wil selfmoord pleeg omdat hy desperaat is. "Hy het na Jangon gekom om mediese behandeling te ontvang en sy geld het opgeraak," het die trustee gesê. Die monnik, wie se naam nie bekend gemaak is nie, se toestand is stabiel.
Dit was die tweede selfmoordpoging deur 'n monnik by die tempel vanjaar. Die 26-jarige Kiou Zin Naing het in Maart homself by die tempel aan die brand gesteek nadat hy teenregeringslagspreuke geskree het. Hy is later aan sy beserings dood.
Die Sjwedagon-tempel het 'n geskiedenis as 'n sentrum vir massapolitiekevergaderings en was verlede September 'n fokus vir Boeddhistiese monnike en pro-demokratiese betogers. Dinsdag se voorval kom voor op 'n tydstip dat die owerhede sekuriteit in Jangon en ander stede begin opskerp het om enige protes wat die eerste verjaardag van verlede jaar se massa teen-regeringsdemonstrasies herdenk, te voorkom.
Die versetbeweging wat as klein betogings begin het, het die militêre regering daarvan beskuldig dat hy versuim het om die ekonomiese las van die mense te verlig. Dit het later in breër teenregeringsbetogings ontaard wat deur militante monnike aangevuur is en het soveel as 100 000 mense in die strate van Jangon, die land se grootste stad, byeengebring.
Die weermag het uiteindelik ingegryp om die vreedsame protes met mag in die kiem te smoor. Minstens 31 mense is dood en honderde is aangehou.
