Inwoners van daardie gebiede, waar die DRK-militêre magte voorheen ontplooi is, het AFP per telefoon vertel dat die aanvalle vandeesweek voortgegaan het.
“Ons vra die owerhede om die militêre teenwoordigheid in daardie sones te versterk waar massamoorde en ontvoerings oor die afgelope dae toegeneem het,” het Oscar Zihalirwa van Walungu gesê.
Rwandese Hoetoe-vegters is sedert die middel-negentigerjare in die woud en berge van die oostelike DRK teenwoordig.
Sekere van die rebelle word daarvan beskuldig dat hulle aan die Rwandese volksmoord in 1994 deelgeneem het. Ongeveer 800 000 mense, meesal etniese Toetsi’s, is binne ses weke in Rwanda deur lede van die Hoetoe-groep in 1994 gedood.
Die internasionale gemeenskap beskou hul teenwoordigheid in die Demokratiese Republiek van die Kongo as een van die vernaamste bedreigings vir stabiliteit in die streek, hoewel hulle oor die afgelope jare deur onenigheid en drostery verswak is.
