Kenia beskik oor ʼn geweldige groot kabinet. Omtrent die helfte van die Keniaanse parlement is almal ministers of adjunkte, nie minder as 96 nie! Deel van ʼn Zimbabwiese “skikking” gaan daarom ʼn vergrote kabinet van 36 mense wees.
Net soos in Kenia waar die regering en die opposisie reeds in Februarie 2008 tot ʼn eenheidsregering ingestem het, maar meer as ʼn maand gestry het oor wie watter poste kry, gaan dit in Zimbabwe nie oor ʼn beginsel nie, maar oor poste in die vergrote kabinet.
Wat ook reeds duidelik is, is dat Tsvangirai sy hand oorspeel het. Die leier van die MDC het gedink dat hy met Groot Brittanje en stedelike steun agter hom vir Mugabe van die troon kan stoot. Maar China staan agter Mugabe en vanweë die spanning tussen Rusland en die Angel-Saksiese wêreld, het die Russe by die VN ook agter China ingeval.
Die Britte en Amerikaners se geraas en -blaas by die Verenigde Nasies het toe op niks uitgeloop nie en Mugabe sit steeds stewig in die saal, sy ouderdom en slegte reputasie in die Weste ten spyt. Benewens China beskik Mugabe en Zanu-PF oor nog ʼn baie belangrike bondgenoot: Mbeki en Suid-Afrika. Trouens, die hele oefening wat nou aan die gang is, is om ʼn “nuwe” Zim-regering maar waarin Mugabe en Zanu-PF steeds die kitaar sal slaan vir die buitewêreld en selfs Brittanje aanvaarbaar te maak. Mbeki, die sogenaamde “bemiddelaar” is niks anders as ʼn openbarebetrekkingekonsultant vir Mugabe en Zanu-PF nie.
Die eintlike vraagstuk tydens die huidige onderhandelings is: wat is Morgan Tsvangirai se prys? Hy het van die presidentskap met Britse steun gedroom, maar moet nou reeds besef dat sy hand verswak het. Vandaar die feit dat die samesprekings onderbreek is sodat Tsvangirai kan gaan “nadink”.
Eintlik is die hele proses wat van nou af gevolg gaan word, heel voorspelbaar. Die SAOG-lande speel ʼn taamlike rol, hoewel die huidige voorsitter, Levy Mwanawasa van Zambië, in ʼn koma in ʼn Paryse hospitaal lê. Dis nogal gerieflik, aangesien hy een van Mugabe se weinige kritici in dié organisasie was. Mbeki en die res van die SAOG-lande – die SA president was gister in Angola waar hy Dos Santos, die voorsitter van SAOG se veiligheidskomitee ingelig het – gaan druk op Tsvangirai toepas om van die presidentskap af te sien en ʼn ondergeskikte pos teenoor Mugabe te aanvaar.
Hierdie uitkoms gaan natuurlik die Britte in ʼn netelige posisie plaas. Ten einde hul potensiële sakebelange in Zimbabwe te bevorder en die Chinese mededinging te bied, wil Brittanje instaan met ʼn hulppakket om Mugabe se skade aan die ekonomie te probeer herstel. Tot dusver het Brittanje egter hoog en laag gesweer dat Mugabe eers die presidentskap moet prysgee alvorens dit kan gebeur.
Morgan Tsvangirai is iets van ʼn Britse marionet of tuislandleier. Trouens, vermoedelik het Brittanje sy hele verkiesingsveldtog gefinansier, want waar sal ʼn opposisieleier in ʼn bankrot land in elk geval geld vandaan kry om ʼn verkiesing te finansier, met ʼn magdom plakkate en pamflette, asook helikopters wat hom rondgevlieg het?
Die marionetmeesters in Whitehall sit nou met die volgende dilemma: hoe gaan hulle hul Zimbabweplan uitvoer, maar terselfdertyd afsien van hul poging tot dusver om Mugabe te ontsetel? Waarskynlik gaan Mbeki, wat ook sterk onder Britse invloed verkeer, aan Brittanje uitkomkans bied deur ʼn “geskiedkundige kompromie” op die tafel te plaas waardeur Mugabe president bly maar Tsvangirai ook een of ander simboliese posisie soos dié van eerste minister teen ʼn stywe pakket in werklike geld, nie Zim-dollars nie, aangebied word.
Brittanje is ʼn middelslagland met ewe middelmatige leiers. My voorspelling is dat Gordon Brown, die eerste minister, en David Miliband, die minister van buitelandse sake, hul trots gaan sluk en enige “deurbraak” wat Mbeki mag aankondig, met fanfare gaan verwelkom. Hul vyand van onlangs, Mugabe, gaan heel waarskynlik nog baat by die komende Britse kontantinspuiting wat die land gaan tref.
Hoewel die oorwinning wat die anti-blanke Mugabe op die punt staan om te behaal vir die Afrikaner ʼn taamlike bitter pil is om te sluk, behoort ons moed te skep uit die verswakking van Britse invloed in Suidelike Afrika.
Brittanje was in die eerste plek regstreeks en onregstreeks daarvoor verantwoordelik dat die twee mees radikale partye, Zanu-PF en die ANC, in ons subkontinent die mag oorgeneem het. Hoewel Mugabe ʼn onaangename man is, is hy vir ons minder gevaarlik as Gordon Brown wat steeds via ons Britsgesinde media, sowel Engels as Afrikaans, asook Mittal-staal en die koloniale mynmaatskappye, dieselfde soort ramp in Suid-Afrika kan veroorsaak as wat Brittanje reeds in Zimbabwe teweeggebring het.
Net soos in Zimbabwe, steun Brittanje immers amptelik “grondhervorming” in Suid-Afrika.

14:21:59 Die huidige onderhandelings tussen Zanu-PF en die Zimbabwiese opposisie gaan waarskynlik op een of ander vorm van kompromie tussen die partye uitloop. Enigeen wat hoop dat die land se ekonomiese krisis daardeur opgelos gaan word, moet weer dink.